Chippy se Studieleier Bedank ná Herrie |
Publication |
Beeld |
Date | 2007-05-22 |
Reporter |
Nivashni Nair |
Web Link |
Durban. – Prof. Viktor Verijenko, mnr. Chippy Shaik se studieleier vir die doktorale proefskrif waarin Shaik na bewering plagiaat gepleeg het, het gister as hoof van die Universiteit van KwaZulu-Natal se departement van meganiese ingenieurswese bedank. Verijenko, wat ’n jaar lank in Australië op studieverlof is, het skriftelik aan die universiteit se leierskorps aangedui dat hy wil bedank.
Prof. Dasarath Chetty, universiteitswoordvoerder, kon gister nie bevestig of Verijenko se bedanking aanvaar is nie. Volgens Chetty sal daar egter binnekort ’n verhoor oor die plagiaat-bewerings teen Shaik wees.
Volgens ’n ondersoek het Verijenko en prof. Sarp Adali, sy kollega, as studieleiers opgetree vir Shaik se proefskrif. In dié proefskrif is ander outeurs se werk volgens die ondersoek sonder erkenning of verwysings gebruik. Voorts is die proefskrif glo deurspek van fundamentele foute. Chetty het gister gesê ’n aantal van die bewerings teen Shaik is gestaaf en sal dus ondersoek moet word.
Die universiteit se leierskorps sal teen die einde van dié week besluit op ’n verhoordatum daarvoor, waartydens die partye volgens Chetty geleentheid sal hê om op aantygings te reageer voor ’n paneel kundiges. Volgens Chetty kan Shaik gevra word om by die verhoor te getuig. As die aantygings waar is, kan sy doktorsgraad weggeneem word. Chetty het bygevoeg dat die universiteit toegewyd bly tot akademiese integriteit en goeie bestuur.
Die Shaik-broers het intussen berigte wat die beweerde plagiaat onthul, bestempel as nóg ’n poging om hulle in ’n slegte lig te stel. Mnr. Yunus Shaik het beweer dié berigte is met opset ’n dag voor Schabir Shaik se appèl voor die konstitusionele hof gepubliseer. Schabir Shaik vra die hof om sy veroordeling en vonnis op bedrogklagte nietig te verklaar. Chippy Shaik kon nie vir kommentaar oor die bewerings bereik word nie.
Yunus Shaik het geweier om te sê waar Chippy Shaik hom bevind.
Met erkenning aan Nivashni Nair en Beeld.