Hy Kry Nie Geld van Kögl – Mbeki |
Publication |
Beeld |
Date | 2007-04-16 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Pres. Thabo Mbeki sê hy het nie geld van die sakeman mnr. Jurgen Kögl ontvang of met hom sake gedoen nie.
Dít kom nadat berig is Mbeki het glo, soos mnr. Jacob Zuma, geld ontvang van Kögl – ’n skatryk Johannesburgse makelaar wat betrokke was by onderhandelings tussen die ANC en Afrikaner-groepe voor 1994.
Die bewerings spruit uit ’n aanhegsel tot die Skerpioene se aansoek aan die Britse owerhede om wedersydse regsbystand met die Zuma-ondersoek. Die Skerpioene het onlangs suksesvol by die Pretoriase hooggeregshof aansoek gedoen vir sulke bystand.
In sy beëdigde verklaring sê adv. Leonard McCarthy, Skerpioene-hoof, daar is ’n vermoede Kögl en ’n Britse prokureursfirma was betrokke by die verdoeseling van omkoopgeld vir Zuma van die Franse wapenfirma Thales. Aangeheg tot hul aansoek is ’n uittreksel uit die ouditeursfirma KPMG se forensiese verslag wat voorberei is vir die Zuma-verhoor wat laas jaar sou begin. Dit fokus op Kögl se Cay Nominees, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, wat glo die “omkoopgeld” aan Zuma sou betaal.
Luidens ’n berig in die Sunday Independent het KPMG gevind geld van Cay Nominees het ook na me. Barbara Masekela, Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, en oudmin. Penuell Maduna gevloei.
Masekela was ambassadeur in Frankryk tydens Suid-Afrika se omstrede wapentransaksie.
Maduna het aan die Sunday Independent erken hy het R145 000 van Kögl gekry, maar sê dit was ’n wettige uitbetaling van ’n legitieme belegging.
Die verslag verwys na vier verdere betalings van R115 000 elk deur Cay Nominees aan “TM, AP, MM en JZ” (Zuma). Maduna het glo aan die Sunday Independent gesê hy “sal nie verras wees” as TM staan vir Mbeki, AP vir mnr. Aziz Pahad, adjunkminister van buitelandse sake, en MM vir mnr. Mendi Msimang, tesourier-generaal van die ANC, nie.
Mbeki het gister deur mnr. Smuts Ngonyama, ANC-woordvoerder, ontken hy het ooit enige geld van Kögl ontvang. Pahad se woordvoerder het aan die Sunday Independent gesê hy het nog nooit geld van “Jurgen” ontvang nie.
Volgens Maduna was baie senior ANC-lede teenwoordig by ’n vergadering met Kögl in 1993 of 1994 waar “uitstekende beleggingsgeleenthede” aangebied is.
“Baie van ons het belê.”
Maar nadat mense soos hy regeringslui geword het, kon Maduna glo nie langer die belegging hou nie en is dit deur Kögl na ’n “blinde trust” verskuif.
Kögl, ook besturende direkteur van African Renaissance Holdings (ARH), het nie die Skerpioene se aansoek teengestaan nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.