Kop, Hart en Maag |
Publication |
Beeld |
Date | 2007-04-16 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Pres. Thabo Mbeki is reg as hy sê korrupsie is armoede se grootste vyand. Adriaan Basson vra wat Mbeki en sy regering daaraan doen.
Presies ’n week voor ’n wêreldberaad oor korrupsie in Sandton, noord van Johannesburg, het regter John Heher namens ’n volbank appèlhofregters uitspraak gelewer oor ’n saak wat volmaak op dié beraad se agenda sou pas.
Tog is daar niks in Sandton gesê oor die saak van die minister van maatskaplike ontwikkeling teen Phoenix Cash & Carry nie.
Pres. Thabo Mbeki, wat die vyfde wêreldforum teen korrupsie (GF5) geopen het, het eerder gekies om oor die impak van korrupsie op armoede te praat, aangevul deur filosofiese en literêre aanhalings van Thomas Hobbes, Ngugi wa Thiong’o en Ousmane Sembène.
Hobbes is verkeerd as hy sê die natuurlike toestand van die mens is ’n oorlog van almal teen almal.
Korrupsie word die ergste deur die armes gevoel en dit is tyd vir die wêreld om daarteen op te staan.
Hoewel Mbeki nie ’n staande applous gekry het nie, sou min van die ongeveer 1 500 afgevaardigdes van hom verskil.
Natuurlik is korrupsie ’n euwel wat armes in veral ontwikkelende lande ontneem van basiese regte: voeding, behuising, onderwys en gesondheidsorg.
Maar wat dóén die wêreld daaraan? Wat doen Mbeki om korrupsie in sy eie land te bestry?
As die president of sy raadgewers nie weet waar om te begin vee nie, is die appèlhof se ontstellende uitspraak in die Phoenix Cash & Carry-saak ’n goeie plek.
In Desember 2003 is Phoenix, ’n medium-grootte onderneming in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gekontrakteer om kospakkies aan 150 000 arm gesinne in dié provinsie se landelike gebiede te verskaf.
Aan die einde van 2004 het Phoenix se kontrak verval en is ’n nuwe tender deur die departement geadverteer.
Bieërs moes pryse vir kospakkies kwoteer en aan ’n aantal formele kwalifikasies voldoen.
Laat in 2005 het Phoenix uitgevind dat sy tender onsuksesvol was en die departement om skriftelike redes daarvoor gevra.
Die departement het laat weet dat dit nie Phoenix se reg is om die kontrak te kry nie.
Aanhegsels het gewys dat die kontrak aan vier maatskappye toegeken is wat kospakkies teen R269,10 en R299,69 aan die departement verskaf.
Phoenix se tender was veel minder – R187 en R180,70 per kospakkie.
Phoenix het die Durbanse hooggeregshof met ’n aansoek genader en op 26 Oktober 2005 het waarnemende regter G. Morley die departement se tenderproses nietig verklaar en beveel dat dit van voor af moet begin.
Dr. Zola Skweyiya, minister van maatskaplike ontwikkeling, en drie van die firmas aan wie kontrakte toegeken is, het teen Morley se bevinding geappelleer.
Heher, namens die appèlhof, begin sy sterk bewoorde uitspraak as volg: “Die toekenning van staatstenders is, soos almal weet, onderworpe aan invloed en manipulasie.”
Hy gaan dan voort om art. 217(1) van die Grondwet aan te haal wat vereis dat staatskontrakte op ’n “regverdige, gelyke, deursigtige, mededingende en koste-doeltreffende” wyse toegeken word.
“Ongelukkig,” sê Heher, “soos ervaring in hierdie hof gewys het, word die hoë standaarde van die Grondwet eerder geëer in die verbreking daarvan as deur nakoming.”
Hy gaan dan voort om te wys op die departement se gebrekkige tenderprosesse wat Phoenix onregverdig op ’n tegniese kwalifikasie laat uitval het, eerder as om na die goedkoopste opsie te soek.
Dít sou in die publiek – die armes – se belang gewees het.
Heher wys verder op ’n aantal “ontstellende aspekte” van die saak:
Die departement se redes vir sy weiering van Phoenix se tender was erg misleidend;
Die departement kon nie die adresse van twee van die suksesvolle tenderaars aan Phoenix verskaf nie – al is hulle deur advokate in die appèlhof verteenwoordig;
Luidens die registrateur van maatskappye se rekords is een van die maatskappye eers ná die sluitingsdatum vir tenders geregistreer;
Die departement se verweer is só “flou” dat ernstige vrae oor sy aankoopproses gevra moet word, en
Dit is steeds onbekend wie die mense agter twee van die suksesvolle tenderaars was – nie eens die advokate wat hul verteenwoordig het, was seker nie. Dis duidelik dat iemand ten alle koste wou hê die suksesvolle tenderaars moes die kontrakte kry.
Die appèlhof het gevolglik die appèlle verwerp en Skweyiya en sy departement sal van voor af die tenders moet adverteer. Totdat nuwe kontrakte toegeken is, sit 150 000 arm gesinne sonder kos.
Transparency International (TI), ’n internasionale organisasie wat korrupsie meet, het Suid-Afrika verlede jaar 51ste uit 163 lande (waar 1ste die beste is) in sy jaarlikse indeks oor korrupsie-persepsies geplaas.
TI se navorsing het bevind dat Suid-Afrikaners die land ’n punt van 4,6 gee, waar 10 beteken heeltemal skoon van korrupsie en 1 heeltemal korrup.
Mbeki en me. Geraldine Fraser-Moleketi, minister van staatsdiens en administrasie, het albei by GF5 subtiel na TI se metodiek gekap en gevra vir die meting van korrupsie “verder as net persepsies”.
Maar nie een van Mbeki of Fraser-Moleketi sou Suid-Afrikaners, wie se persepsie is dat korrupsie onaanvaarbaar hoog is, anders by dié beraad oortuig het nie.
Terwyl ander lande soos Iran, Saoedi-Arabië en Mosambiek dokumentasie beskikbaar gestel het oor dié lande se pogings en strukture om korrupsie te beveg, het Suid-Afrika dit nie nodig geag om die wêreld te beïndruk met uitstallings, aanbiedings of selfs pamflette oor suksesse in sy aanslag teen korrupsie nie.
Al wat beskikbaar was, was afskrifte van Mbeki en Fraser-Moleketi se toesprake.
Buitelanders sonder agtergrond oor Suid-Afrika se wetstoepassingsowerhede sou tereg kon wonder of ons hoegenaamd ’n oorkoepelende strategie het om korrupsie te beveg.
Voorbeelde van korrupte Suid-Afrikaners wat uitgevang is en hoe ons dit gedoen het, het geheel en al uit Mbeki en Fraser-Moleketi se toesprake ontbreek.
Selfs adv. Vusi Pikoli, nasionale direkteur van openbare vervolging, het tydens ’n sessie oor wetstoepassing meer teorie as feit gepraat.
Volgens Pikoli het wetstoepassers koppe, harte en mae nodig om korrupsie doeltreffend te beveg. Koppe vir ’n “strategiese aanslag”, harte vir “erbarming” en mae vir “waagmoed om ons hakke in te slaan”.
Adv. Willie Hofmeyr, hoof van die Kobras en die batebeslagleggingseenheid, was die enigste plaaslike wetstoepasser wat in sy aanbieding oor batebeslaglegging praktiese voorbeelde verskaf het van hóé Suid-Afrika tot die internasionale aanslag teen korrupsie bydra.
Maar dit was amper asof daar ’n bewustelike poging was om nie ’n woord oor plaaslike korrupsiesake te rep nie en by veilige teorie te bly.
Waarom na die wapenskandaal, mnr. Jacob Zuma, Schabir Shaik, Oilgate of Phoenix Cash & Carry verwys as jy filosowe en skrywers kan aanhaal?
Dit is dikwels tydens GF5 gesê dat Suid-Afrika uitstekende bestaande wetgewing het om korrupsie doeltreffend te bestry.
Of die land die politieke wil en maag (volgens Pikoli) het, is ’n ander vraag.
Suid-Afrika het steeds nie wetgewing wat politieke partye verplig om hul donateurs te openbaar te maak nie en staatsamptenare se private belange word vertroulik aan die Staatsdienskommissie (SDK) verklaar, wat ingevolge wetgewing dit nie openbaar mag maak nie.
Teen hierdie agtergrond het die ouditeur-generaal verlede jaar bevind 1 678 staatsamptenare, waaronder 14 ministers en adjunkte, het ook belange in die private sektor.
Daarenteen het Roemenië, ’n land wat tot 1989 deur ’n kommunistiese party regeer is, reeds wetgewing ingestel wat politieke partye verplig om hul weldoeners openbaar te maak en álle staatsamptenare dwing om te sê wat hul private belange is.
Roemenië is ver onder Suid-Afrika (84ste) op TI se indeks.
Volgens me. Laura Stefan, ’n direkteur in Roemenië se departement van justisie, was daar in dié land ná kommunisme die politieke wil om deursigtigheid te bevorder en daarom kon hierdie wetgewing deurgevoer word. “Partye moet ál hul donasies en lede-bydraes verklaar, asook enige afslag wat hulle by maatskappye kry. Ons kyk dan of daar enige verband is tussen maatskappye wat politieke partye borg en dié wat staatskontrakte kry.”
Alle staatsamptenare moet een keer per jaar hul private belange – geldelik, huise en dié van hul familielede – op die departement waarvoor hulle werk se webwerf verklaar. “Hierdie verklarings word dan deur twee aanklaers en ’n regter nagegaan en as enige botsings gevind word, word die amptenaar aangekla.”
Tydens sy voorlegging oor private belange en politiek het mnr. Richard Calland, senior politieke ontleder by die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika (Idasa), Suid-Afrika gekap vir sy gebrek aan wetgewing wat politieke partye verplig om hul finan-siering te verklaar.
Volgens hom is dit ’n positiewe teken dat die ANC in sy onlangse beleidsdokumente partypolitieke finansiering as ’n probleem erken.
Oor staatsamptenare se private belange sê Calland daar is twee maniere om hiermee te handel: óf meganies (soos Roemenië) óf radikaal deur staatsamptenare te verbied om private belange te hê.
Calland verkies laasgenoemde.
Hoe kan Suid-Afrika Mbeki en sy regering vertrou om korrupsie te beveg as 150 000 arm gesinne in KwaZulu-Natal tans sonder kos sit weens die departement van maatskaplike ontwikkeling se onregmatige tenderprosesse?
Gaan hy Skweyiya en senior amptenare in sy departement voor stok kry hiervoor? En wie gaan ondersoek of daar belastinggeld gebruik is om omkoopgeld te betaal vir ’n tender wat kos aan die armstes van die armes moet voorsien?
Die vyfde wêreldforum teen korrupsie was ’n verlore geleentheid vir Mbeki om die wêreld te wys dat hy nie net mooi woorde het nie, maar ook die maag het om hakke teen korrupsie op sy voorstoep in te slaan.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.