Zuma Weer Midde-in Shaik se Korrupsie-stryd in Howe |
Publication |
Beeld |
Date | 2007-04-28 |
Reporter |
Phillip de Bruin |
Web Link |
Mnr. Jacob Zuma, adjunkpresident van die ANC en aanspraakmaker op die land se presidentskap, staan opnuut midde-in die korrupsie-skandaal waarvoor Schabir Shaik, sy vriend en raadgewer, 15 jaar tronk toe is.
Shaik het, ná sy en verskeie van sy maatskappye se skuldigbevinding in die Durbanse hooggeregshof, onsuksesvol na die appèlhof geappelleer. Nou doen Shaik en sy maatskappye aansoek om verlof tot appèl in die konstitusionele hof en roer die eerste keer in die uitgerekte sage grondwetlike kwessies aan.
Volgens Shaik is sy grondwetlike regte op onder meer ’n billike verhoor aangetas. Adv. H.S. Gani, vir Shaik, het laat Donderdagmiddag sy betooghoofde in die appèlaansoek by die konstitusionele hof ingedien nadat hoofregter Pius Langa beslis het dat Shaik en die staat die 11 regters van die hof laat in Mei mondelings moet toespreek oor die appèl-aansoek.
In die betooghoofde sê Gani onder meer dat adv. Vusi Pikoli, nasionale direkteur van openbare vervolging, “nie redelikerwys die waarheid praat nie” wat sy redes betref om ’n besluit oor die vervolging van Zuma deur sy voorganger, adv. Bulelani Ngcuka, “om te keer” en Zuma wel te laat vervolg (nadat Shaik skuldig bevind is. Dat die nasionale vervolgingsgesag (NV) hom aan “growwe ongrondwetlike optrede en wangedrag” skuldig gemaak het deur die verhore van Schaik, Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thint te skei en dat die ware rede daarvoor is dat die NV Shaik van getuienis wou ontneem wat sy weergawe sou staaf.
Dit beteken dat Shaik as’t ware soos ’n lam ter slagting gelei is om getuienis teen Zuma en Thint te verkry. Dít het volgens Gani veroorsaak dat Shaik se grondwetlike regte op ’n billike verhoor, sy menswaardigheid en sy vryheid hom ontneem is. Dit is juis in die betoog waar Zuma opnuut in die Shaik-sage ter sprake kom.
Belangrike getuienis oor die “onregmatige” skeiding van Shaik en Zuma se verhore het volgens Gani eers aan die lig gekom met Zuma se verskyning verlede jaar in die Durbanse hooggeregshof – nadat Shaik skuldig bevind en sy appèl verwerp is. Daarom, so voer Gani aan, kan Shaik nou eers die bewyse van die ongrondwetlikheid van sy verhoor openbaar maak. Hy (Gani) rig dus namens Shaik ’n versoek tot Langa en sy regters om hulle toe te laat om die nuwe beweringe soos in die Zuma-verrigtinge aan die lig gekom het, nou die eerste keer in die konstitusionele hof te bewys.
Die staat staan in sy eerste beantwoordende verklarings die aansoek teen en sê onder meer die reg vereis dat finaliteit in regsgedinge verkry word en dat geen rede bestaan waarom Shaik nou skielik met grondwetlike argumente vorendag kan kom nie. Gani lê ook, soos regsgeleerdes voorspel het, sterk klem op die appèlhof se fout om te verwys na ’n “algemeen korrupte verhouding” tussen Shaik en Zuma.
Met erkenning aan Philip de Bruin en Beeld.