Publication: Beeld Issued: Date: 2007-05-26 Reporter: Deon de Lange

2 Paspoorte van Shaik-broer Nog Onder Loep

 

Publication 

Beeld

Date 2007-05-26

Reporter

Deon de Lange

Web Link

www.beeld.co.za

 

Kaapstad. – Die departement van binnelandse sake kon weens die landwye staatsdiens-stakings gister nie sę hoe sy ondersoek vorder na hoe mnr. Chippy Shaik twee paspoorte in die hande gekry het nie.

Dít nadat me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van binnelandse sake, vandeesweek in die parlement onthul het dat Shaik, broer van die veroordeelde bedrieër Schabir, twee Suid-Afrikaanse paspoorte besit.

Dit is onwettig om meer as een geldige Suid-Afrikaanse paspoort te besit. Mapisa-Nqakula het in antwoord op ’n vraag van die DA gesę twee paspoorte – een in 2001 en een in 2004 – is wel aan Shaik uitgereik.

“Dit wil voorkom of die individu (Shaik) nie die besit van die eerste paspoort verklaar het nie toe hy aansoek gedoen het om ’n tweede paspoort. “Die saak word tans ondersoek. Indien bevind word dat die paspoort onwettig bekom is, sal stappe gedoen word om die tweede paspoort terug te trek,” lui die minister se geskrewe antwoord.

Shaik het onlangs weer in die mediakollig beland nadat bewerings gemaak is dat hy in sy doktorale proefskrif plagiaat gepleeg het. Sy naam word ook verbind met ’n ondersoek wat die Duitse owerhede van stapel gestuur het oor beweerde omkoopgeld wat die Duitse fregat-konsortium (GFC) aan Suid-Afrikaners sou betaal het om die vloot se sowat R6,78 miljard korvette-kontrak te bekom.

Sentraal aan die ondersoek is die bewering dat Shaik, voormalige hoof van die weermag se wapenaankope, omkoopgeld van $3 miljoen (ongeveer R21 miljoen) ontvang het, berig Adriaan Basson.

Sedertdien het die DA ’n beroep gedoen op die nasionale vervolgingsgesag (NV) om die bewerings teen Shaik te ondersoek. Mnr. Eddie Trent, DA-LP en woordvoerder oor openbare rekenings, het eergister luidens ’n verklaring gevra dat die NV “vinnig en beslissend” moet optree aangesien die besit van meervoudige paspoorte Shaik daartoe in staat stel om die land se grense na willekeur oor te steek.

Me. Cleo Monasa, woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het gister aan Beeld gesę sy behoort teen Maandag ’n antwoord te kan verskaf oor vordering met die departement se paspoort-ondersoek.

Met erkenning aan Deon de Lange en Beeld.