Bevel oor Shaik het 'Plofbare Implikasies' |
Publication |
Volksblad |
Date | 2007-04-09 |
Reporter |
Philip de Bruin |
Web Link |
JOHANNESBURG. – Die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik mag sy pogings om ’n 15-jaar-vonnis vry te spring, in die grondwethof voortsit. Dié bevel van hoofregter Pius Langa maak dit egter baie duidelik dat die mondelinge betoog wat hy en sy span van 10 regters op 23 en 24 Mei wil aanhoor, net mag gaan oor Shaik se aansoek om appèl in die grondwethof en ’n aansoek om bykomende getuienis te mag indien.
Dit beteken die regters sal nie op dié twee dae na die verdienste van Shaik se saak luister nie. “Die partye (Shaik, verskeie van sy maatskappye en die staat) moet daarvan kennis neem ... dat nuwe opdragte vir die hantering van die appèl uitgereik sal word as hierdie hof die appèl toelaat,” sê Langa.
Normaalweg hoor die grondwethof in verrigtinge waarin aansoek om appèl gedoen word, mondelinge betoog oor die aansoek sowel as oor die verdienste van die saak aan. Sodoende kan die grondwethof in een uitspraak bevele uitreik oor die toelating van die appèl en die regters se bevinding na die verdienste van die saak.
In Shaik se geval is die twee kwessies egter nou geskei. Prof. Tom Coetzee, hoogleraar in strafreg aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, het gister in reaksie op Langa se bevel gesê: “Dit het ingeboude, hoogs plofbare politieke implikasies. “Veral die noue betrokkenheid van mnr. Jacob Zuma by wat in die howe oor hom en Shaik gesê is, hou groot politieke implikasies in. As die grondwethof die appèl toelaat en later bevind dat die appèl slaag, kan dit ’n algehele nuwe lig oor mnr. Zuma laat opgaan. “Daar is bitter min grondwetlike kwessies in die Shaik-verhoor ter sprake.
Een daarvan is moontlik die toelating deur die hooggeregshof en die appèlhof van ’n gekodeerde faks as getuienis. Daar kan betoog word dat die toelating van die faks ’n regsdwaling was en dat Shaik dus nie ’n billike verhoor gehad het, soos die Grondwet vereis nie,” het Coetzee gesê. “Maar ’n tweede baie teer sakie is die fout wat die appèlregters gemaak het in hul verwysing na ’n algemeen korrupte verhouding tussen Shaik en mnr. Jacob Zuma asof dit ’n bevinding van die hooggeregshof was. “Daar was ’n verskriklike, myns insiens totaal onnodige, uitbarsting daaroor. Dit kan wees dat die kwessie ook nou weer aangegryp kan word.
Miskien sal dit juis ’n goeie ding wees as die grondwethof die bohaai finaal ter ruste lê,” meen Coetzee.“ ’n Derde moontlike grondwetlike kwessie wat nou weer ter sprake kan kom, is die sogenaamde bewerings van ’n verhoor deur die media’. Die bewering kan gemaak word dat daar ’n persepsie van vooroordeel by die regters teen Shaik geskep is weens die wye mediadekking.”
Met erkenning aan Philip de Bruin en Volksblad.