Publication: Beeld Issued: Date: 2007-05-29 Reporter:

Skandaal Betrek Nou Ook Vennote van Cell C

 

Publication 

Beeld

Date 2007-05-29

Web Link

www.beeld.co.za

 

Die name van verskeie direksielede van Cell C se bemagtigingsvennote het opgeduik in die ondersoek na die regering se omstrede wapenaankoopprogram ter waarde van R30 miljard.

Dit sluit in direksielede van Ubambo Investment Holdings, ’n konsortiumlid van die Cell C-bemagtigingsvennoot CellSAf, CellSAf self en 3C Telecommunications, Cell C se houermaatskappy. Mnre. Yusuf Mohamed, direkteur van onder meer Ubambo, Siemens, CellSAf en 3C, en Ian Pierce, direkteur van onder meer 3C en CellSAf, het bande met die omstrede Futuristic Business Solutions (FBS).

Dit is onbekend of albei steeds belange in FBS besit, maar Pierce dien steeds as ’n direkteur. FBS is een van die maatskappye wat by die wapenskandaal betrek is.

Benewens Mohamed en Pierce dien mnr. Yunis Shaik, die gevonniste bedrieër Schabir se broer, in die direksie van CellSAf. Schabir Shaik, wat tans tronkstraf uitdien weens sy aandeel in die wapenskandaal, was self ’n stigters-direksielid van CellSAf. Yunis Shaik is eers in 2006 as CellSAf-direkteur aangestel.

Ander name wat tydens die ondersoek na die wapenskandaal opgeduik het wat sedert CellSAf se stigting op die direksie dien, sluit in mnre. Tshepo Molai en Lambert Moloi. Beide Moloi, ’n afgetrede generaal in die weermag, en Molai is familie van die voormalige minister van verdediging Joe Modise.

Ook Moloi en Molai het aandele in FBS besit toe die omstrede wapenkontrakte toegeken is. Dit is onseker of hulle steeds aandele in FBS het.

Ubambo, een van die grootste lede van CellSAf, besit 10% van die konsortium. Sy CellSAf-belang is sy grootste bate, volgens sy jongste beskikbare finansiëlejaar-resultate tot einde Februarie 2004. CellSAf besit tans ’n belang van 25% in Cell C se houermaatskappy 3C Telecommunications. Die toekenning van die derde selfoonlisensie aan Cell C, wat destyds deur CellSAf (40%) en die Saoedi-Arabiese Oger-groep (60%) beheer is, het in 2000 en 2001 heelwat teenkanting gekry.

’n Skikking tussen Cell C en Nextcom, een van die konsortiums wat ook vir die lisensie gebie het, is uiteindelik buite die hof besleg. Nextcom het beweer daar was ongerymdhede met die toekenningsproses. Die terme van dié skikking is nooit bekend gemaak nie.

Benewens Molai, Moloi, Pierce en Schabir Shaik, het mnr. Mathews Phosa, voormalige premier van Mpumalanga, ook op die CellSAf-direksie gedien toe die derde selfoonlisensie aan Cell C toegeken is. Dr. Danisa Baloyi, bekende bemagtigingsakevrou wat nou deur die Fidentia-skandaal in omstredenheid gedompel is, het in die stigtingsdireksie van Ubambo gedien saam met Yunus Mohamed en mnr. Zwelakhe Mankazana, tans voorsitter van Ubambo.

Mankazana dien in 24 direksies. Hy is onder meer ’n direkteur van CellSAf, Cell C Property Company, Cell C Service Provider Company en 3C Telecommunications, die houermaatskappy van Cell C. Mankazana dien ook as direkteur van die JSE-genoteerde Aquarius Platinum. Sy Savannah Resources is 'n bemagtigingsvennoot van Aquarius.

Met erkenning aan Beeld.