Publication: Beeld Issued: Date: 2007-01-11 Reporter: Adriaan Basson

’n Ewige Skandvlek?

 

Publication 

Beeld

Date

2007-01-11

Reporter

Adriaan Basson

 

Daar is ’n groter kans dat die DA die volgende verkiesing sal wen as dat pres. Thabo Mbeki ’n regterlike kommissie van ondersoek sal aanwys om Suid-Afrika se R30 miljard-wapentransaksie te ondersoek.

Só skryf die sakeman en wapenkontrak-kritikus dr. Richard Young in reaksie op die DA se versoek die naweek aan Mbeki om só ’n kommissie aan te stel.

Dít was nadat Brittanje se kantoor vir ernstige bedrog (SFO) bevestig het sy ondersoekers is op pad na Suid-Afrika om na vuil spore met die aankoop van 24 Hawk-opleidingsvliegtuie as deel van die wapentransaksie, te soek.

Nóg ’n jaar. Nóg ’n hoofstuk in die wapenskandaal.

Nóg vrae oor die regering se duurste kopie in die nuwe Suid-Afrika.

Die DA kan seker nie verkwalik word vir sy versoek aan Mbeki nie. Hoewel mnr. Eddie Trent, DA-woordvoerder oor die wapentransaksie, seker al ophou tel het hoeveel keer hy só ’n kommissie van ondersoek bepleit het, bly dit seker die logiese ding om te doen.

Al sê Young die kans is beter dat die maan van Roquefort-kaas gemaak is as dat Mbeki tot die DA se versoek sal toegee.

Mbeki se kritici sal met hom saamstem: die enigste regterlike ondersoek wat nog uit die wapentransaksie-omstredenheid gevloei het, was die Hefer-kommissie. En uiteindelik het dit hiér nie naastenby soveel oor omkopery en vuil geld as oor die ANC se binnegevegte gegaan nie.

Waarom die staatshoof se weiering om ’n behoorlike kommissie aan te stel wat die albatros, wat elke jaar terugkeer, behoorlik sal oopvlek?

Young reken Mbeki sal nie iets begin wat uiteindelik sy eie skeen kan byt nie.

Op sy beurt wys Mbeki telkens na die gesamentlike ondersoekspan (GOS) se verslag oor die wapentransaksie.

Dié span, bestaande uit die ouditeur-generaal (OG), openbare beskermer (OB) en nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), het in November 2001 bevind daar was geen bewyse van “onbehoorlike of onwettige gedrag” deur die regering nie.

Mbeki het selfs hierna verwys die dag toe hy in die parlement vir mnr. Jacob Zuma, voormalige adjunkpresident en ANC-onderleier, van sy pligte onthef het.

Dít nadat regter Hilary Squires in Schabir Shaik se verhoor beslis het (hierdie beslissing is deur die appèlhof onderskryf) dat Shaik deur Zuma se ingryping by die wapentransaksie gebaat het.

Die GOS-verslag was in elk geval toe reeds onder ernstige verdenking.

Young, wie se firma, C2I2, onsuksesvol gebie het om die vloot se vier nuwe korvette met gevegsuites toe te rus, het ’n verbete hofstryd teen die OG gevoer om toegang tot vroeëre weergawes van dié verslag te kry.

In Januarie 2005 is dié dokumente aan hom oorhandig. Dit het ’n skrikwekkende verhaal vertel: sensitiewe gedeeltes oor foute en ongerymdhede met die aankoopproses is uit die finale verslag gelaat. En die finale GOS-verslag is versag en aangepas om die regering skoon te laat.

Een van die kwessies wat iemand duidelik uit die GOS-verslag wou hou, was die aankoop van Hawk-opleidingsvliegtuie ten duurste van Brittanje se BAE Systems.

Suid-Afrika kon miljoene rande gespaar het deur vir die goedkoper Italiaanse opsie te gaan – dit was in elk geval die lugmag se voorkeurkeuse.

Verdoemend was ook ’n onderhoud wat die OG se ondersoekers met lt.genl. Pierre Steyn, voormalige sekretaris van verdediging, gevoer het. Steyn se dodelike kritiek is uit die finale verslag gelaat.

Steyn het die transaksie se regsgronde betwyfel, gesê die aankoopproses was vervuil met ongerymdhede, verklaar daar was politieke manipulasie en aangevoer hul aanbevelings is “blatant geïgnoreer”.

“Hoe hulle die Hawk bekom het, het my nooit regtig oortuig nie. Ek benadruk wéér as verantwoordbare beampte dat dit ongerymd is om ’n opsie te oorweeg waarvoor daar geen prys bestaan nie,” het Steyn gesê.

Nie voor ’n kommissie van ondersoek wat regstreeks op nasionale televisie uitgesaai word nie (soos Hefer), maar aan die regering se boekhouer.

Tussen die OG, OB, NDOV én kabinet (wat die voorlopige verslag gesien het voordat die finale weergawe uitgereik is) het Steyn se kritiek op die grond beland.

En tussen Shaik se verhoor, Zuma se vervolging en Tony Yengeni se tronkmanewales het die Hawk-transaksie effens vergete geraak.

Tot die afgelope naweek, toe die gesaghebbende Britse dagblad The Guardian die storie gebreek het dat die SFO se ondersoekers op pad na Suid-Afrika is.

Die Skerpioene, wat die Shaik-, Zuma- en Yengeni-sake tot dusver hanteer het, sal die SFO in hul ondersoek hier bystaan.

Die SFO is onder massiewe druk om te presteer ná dié kantoor en premier Tony Blair se omstrede onlangse besluit om die ondersoek na ’n wapentransaksie tussen BAE en Saoedi-Arabië te laat vaar.

Dié ondersoek na die Al-Djamamah-transaksie het glo ’n bedreiging vir Brittanje se diplomatieke bande met Saoedi-Arabië ingehou.

Die Suid-Afrikaanse besoek vorm deel van ’n wêreldwye ondersoek na BAE se bedrywighede, onder meer ook in lande soos Roemenië, die Tsjeggiese Republiek en Tanzanië.

Luidens The Guardian stel die SFO glo veral belang in die verhouding wat BAE met oudmin. Joe Modise en sy adviseur, adv. Fana Hlongwane, gehad het.

Modise, wat sedert 1994 minister van verdediging was, is in 2001 aan kanker dood.

Na bewering het BAE groot bedrae geld aan Hlongwane betaal. Hy is deesdae voorsitter van die Ngwane Defence Group, waarvan genl. Siphiwe Nyanda, voormalige weermaghoof, en sy vriend, die uitvoerende hoof is.

Die SFO sal waarskynlik ook in die oorspronklike weergawe van die GOS-verslag belangstel: daarin is bevind dat Modise persoonlik die besluit beïnvloed het om vir die Hawk, eerder as die goedkoper Italiaanse opleidingsvliegtuie, te gaan.

Nog ’n aspek van die SFO-ondersoek is die rol van dr. Richard Charter en sy Osprey Aviation. Charter, wat in 2004 verdrink het, was BAE se agent in Suid-Afrika met die wapentransaksie. BAE het erken dat kommissie aan Charter en Osprey betaal is en gesê dit was vir legitieme dienste wat hulle gelewer het.

Charter en Hlongwane het ’n gemeenskaplike belang gehad in Tsebe Properties, waarvan Hlongwane steeds ’n direkteur is.

Die Britse ondersoek is nie die enigste internasionale ondersoek na beweerde omkopery met Suid-Afrika se wapentransaksie nie.

In Julie verlede jaar het die Duitse vervolgingsgesag in Düsseldorf bevestig dat hy korrupsie met die aankoop van vier nuwe korvette vir die vloot ondersoek.

Die Duitse fregat-konsortium (GFC), onder leiding van die nywerheidskonglomeraat ThyssenKrupp, het in 1998 dié kontrak van R6,87 miljard gekry.

Shaik was betrokke by die korrupte tender van R1,3 miljard vir die verskaffing van die vlootkorvette se gevegsuites.

Die Duitse ondersoek het opslae gemaak tydens Mbeki se besoek aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi daar. Daar is destyds van regeringskant selfs gesê die publisiteit oor dié ondersoek is beplan om Mbeki se besoek in ’n slegte lig te stel.

Die weekblad Der Spiegel het onthul die kantore van ThyssenKrupp, Blohm + Voss, HDW en MAN Ferro­staal – almal vorm deel van die GFC – is deurgesoek en dat daar na omkoopgeld van R137 miljoen gekyk word.

“Die ondersoekers wéét dat daar met die verkoop van die korvette (aan Suid-Afrika) sogenaamde ‘noodsaaklike uitgawes’ – omkoopgeld deur Duitse maatskappye in die buiteland – teen belastingvereistes afgeskryf is, tot dié praktyk (in 1999) onwettig in Duitsland geword het. Hulle is egter nog nie seker wie die betalings goedgekeur het nie,” het Der Spiegel berig.

Die Duitse owerhede het glo reeds in 2001 ’n dokument uit Suid-Afrika ontvang met bewerings dat ’n hooggeplaaste Suid-Afrikaanse politikus in 1999 miljoene rande via Switserland ontvang het vir sy aandeel in die toekenning van die GFC-kontrak.

Der Spiegel se ondersoek beklemtoon die vloot se eerste tenderproses vir korvette (Projek Sitron) in 1994 en dat Brittanje en Spanje tóé die enigste lande op die kortlys was.

“Dié besluit het nie langer as vier weke gestaan nie. Op sy besoek aan Duitsland in 1995 (as adjunkpresident) het Mbeki mnr. Klaus Kinkel, Duitse minister van buitelandse sake, en die GFC verras deur aan te kondig ‘die wedloop is nog oop’.”

Die Duitse vervolgingsgesag wil nie uitwei oor die stand van hul ondersoek nie, maar me. Patricia de Lille, OD-leier wat die “De Lille-dossier” met bewerings van korrupsie destyds in die parlement bekend gemaak het, vertrek eersdaags na Düsseldorf om met hulle te vergader.

Dit sal vanjaar nege jaar wees sedert die kabinet in 1998 die weermag se wapentransaksie goedgekeur het.

In dié nege jaar het die wapentransaksie twee mense (Shaik en Yengeni) agter tralies laat beland en mnr. Chippy Shaik, Schabir se broer en voormalige hoof van wapenaankope by die weermag, sy werk gekos.

Zuma se afdanking as adjunkpresident spruit uiteraard ook uit Shaik se ondergang. Weinig het tot dusver gekom van die beloofde 65 000 werkgeleenthede en R104 miljard se beleggings wat weens teenhandel-ooreenkomste na die land sou vloei. Die jongste syfers dui daarop dat die wapenfirmas nog net 13 000 werkgeleenthede hier geskep het.

Daarteenoor het die Suid-Afrikaanse belastingbetaler al R29 miljard vir dié wapentuig opgedok.

Uit die afgelope paar maande se verwikkelinge is dit duidelik dat die laaste hoofstuk van die wapentransaksie nog lank nie geskryf is nie. 2007 behoort duidelikheid oor ’n paar aspekte te bring:

Gaan Zuma weer van korrupsie aangekla word?

Indien wel, gaan hy Mbeki as getuie roep?

Gaan Mbeki, soos dr. Essop Pahad, minister in die presidensie, die vergaderings onthou wat hy met die Franse wapenfirma Thales gehad het?

Gaan die Duitse en Britse ondersoeke tot vervolgings lei?

Gaan die regering kontrakteurs beboet wat agter is met hul teenhandel-verpligtings?

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.