Chippy Moeg om te Hoor Hy’s ’n 'Skomgat' |
Publication |
Volksblad |
Date | 2007-05-29 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
JOHANNESBURG. – Mnr. Shamin “Chippy” Shaik vlug nie na Australië nie.
Hy en sy gesin emigreer daarheen omdat hy moeg is om in sy eie land uitgebeeld te word as ’n “skomgat-wapensmokkelaar”. Shaik, die weermag se voormalige hoof van wapenaankope en broer van die bedrieër Schabir, het in ’n openhartige onderhoud met The Sunday Independent vertel hoe Suid-Afrika vir hom en sy familie “giftig” geraak het.
Chippy Shaik is die afgelope jaar in die nuus nadat dit bekend geword het die Duitse vervolgingsgesag ondersoek bewerings dat hy R21 miljoen van die Duitse fregat-konsortium (GFC) ontvang het. Die GFC het die kontrak van bykans R7 miljard gekry om vier nuwe korvette aan die vloot te verskaf. Chippy Shaik is destyds by die weermag weg nadat daar bevind is hy het geklassifiseerde dokumente aan Schabir – wie se Nkobi-groep aandele in African Defence Systems (ADS) besit – gegee.
ADS het die kontrak gekry om gevegsuites vir die vier korvette te vervaardig. Nadat hy uit die weermag geskors is, het Shaik uiteindelik uit die weermag bedank en ’n pakket van die staat ontvang.
Die afgelope week moes hy weer vure doodslaan nadat die Sunday Times verlede week berig het hy het plagiaat gepleeg met die skryf van sy doktorale proefskrif. Prof. Viktor Verijenko, sy studieleier en hoof van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se departement meganiese ingenieurswese, het Maandag bedank.
Intussen is die departement van binnelandse sake besig met ’n ondersoek na Shaik se twee paspoorte. Shaik het aan The Sunday Independent gesê dat hy reeds drie jaar gelede besluit het om na Australië te emigreer en tóé reeds daar begin werk soek het. Maar dit was die nuutste bewerings van korrupsie en plagiaat wat hom finaal laat besluit het om te gaan.
Chippy Shaik ontken die plagiaat ten sterkste en sê “op die rekord” dat hy “absoluut f****” weet van enige omkopery.
Die onderhoud met hom is Vrydagmiddag in Sandton gevoer. “Daar is ’n veldtog teen my, uiteraard weens Schabir se probleme. Ek het dit nie nodig nie. “Ek het veral nie nodig om in ’n plek te bly waar my twee kinders van 14 en 8 die koerant kan oopmaak en sien hoe ek beswadder en verneder word nie,” het Shaik gesê.
Hy het sy paspoort, Australiese verblyfspermit en Mosambiekse permitte aan die verslaggewer gewys.
Volgens Shaik was sy grootste fout toe hy in die vroeë 1990’s uit Amerika (waar hy ’n studiebeurs gehad het) na Suid-Afrika teruggekeer het.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Volksblad.