Zuma Lig Sluier oor Hofplanne |
Publication |
Die Burger |
Date | 2007-02-12 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
www.dieburger.co.za |
Mnr. Jacob Zuma het die sterkste aanduiding nóg gegee dat hy die hof gaan vra om die saak teen hom permanent te skrap – ás hy weer aangekla word.
In ’n beëdigde verklaring voor die Pietermaritzburgse hooggeregshof daag die afgedankte adjunkpresident die nasionale vervolgingsgesag (NVG) uit om bekend te maak óf en wanneer hy weer aangekla gaan word.
Dié verklaring is deel van sy regspan se antwoord op die staat se aansoek vir regsbystand van Mauritius se owerhede.
Regter Phillip Levinsohn sal betoë op 22 Maart aanhoor.
Die belangrikste Mauritiaanse dokument wat die staat wil bekom, is die 2000-dagboek van mnr. Alain Thétard, voormalige hoof van die wapenfirma Thint, waarop daar in 2001 by Thales – Thint se houermaatskappy – se kantore in Mauritius beslag gelê is.
’n Kopie uit dié dagboek is in die Schabir Shaik-saak gebruik om te bewys daar was ’n vergadering tussen Zuma, Shaik en Thétard op 11 Maart 2000 in Durban. Die staat beweer omkoopgeld vir Zuma is op dié vergadering bespreek.
In sy sterk bewoorde verklaring beskuldig die ANC-onderleier en afgedankte adjunkpresident die NVG van “vuil hande”.
Hy besef dat die saak teen hom teruggeplaas kan word op die hofrol, maar die staat kan nie “musical chairs” speel met sy besluit nie.
“Ek daag die staat spesifiek uit om positief te verklaar of ’n besluit om my weer te vervolg reeds geneem is en indien nie, wanneer dit geneem gaan word.
“Ek is by magte om dit te weet. As die besluit (van die staat) is om nié voort te gaan nie, is dié aansoek (vir die Mauritius-dokumente) akademies en het dit geen praktiese gevolge nie,” sê Zuma.
Volgens Zuma hou hy sy regte voor om ’n aansoek te bring vir die permanente staking van sy vervolging as hy weer aangekla word.
Die Mauritius-aansoek en ander hofprosesse word allerweë beskou as ’n aanduiding dat adv. Vusi Pikoli, nasionale direkteur van openbare vervolging, reeds besluit het om Zuma weer te vervolg.
Die tydsberekening van ’n saak teen Zuma, en ’n aansoek deur hom om die permanente staking van vervolging, kan ’n reuse-impak hê op sy kanse om in Desember tot ANC-president verkies te word.
Volgens ingeligtes kan só ’n aansoek en moontlike appèlle wat daarna kan volg, meebring dat die strafsaak teen Zuma eers in 2008 begin.
In sy verklaring voer Zuma talle regsredes aan waarom die staat se aansoek om regsbystand geweier moet word.
Amptelik is daar tans nie ’n ondersoek teen hom nie, die staat kom met “vuil hande” na die hof oor hulle vroeër amptelike dokumente uit Mauritius verwyder het en sy vervolging geskied glo nie op ’n objektiewe wyse nie.
Erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.