Publication: Beeld Issued: Date: 2007-04-23 Reporter: Philip de Bruin

Shaik : ‘Beslaglegging is te Erg’

 

Publication 

Beeld

Date

2007-04-23

Reporter

Philip de Bruin

Web Link

www.news24.com/Beeld/

 

Korrupsie “kan nie naastenby gelyk gestel word” aan ernstige misdaad soos georganiseerde misdaad, geldwassery, misdadige bende-bedrywighede en afpersing nie. Daarom is die bevel van die hooggeregshof in Durban, wat later deur die appèlhof bekragtig is, dat die staat beslag mag lê op bates van meer as R19 miljoen van Shabir Shaik, “totaal buite verhouding” tot die misdaad, veral omdat Shaik reeds tot 15 jaar tronkstraf weens korrupsie gevonnis is. Só voer advv. N. Singh, SC, en H. Gani, die regspan van Shaik, aan in hofstukke wat Vrydagmiddag laat by die konstitusionele hof ingedien is in Shaik se aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding en teen die beslaglegging op sy en sy maatskappye se bates.

Die 11 regters van die hof hoor vroeg in Mei mondelinge betoog in die appèlaansoek aan. In hul betooghoofde sê Shaik se regspan dat die beslagleggings van meer as R42 miljoen op twee van Shaik se maatskappye, Nkobi Holdings en Nkobi Investments, om dieselfde redes buite verhouding tot die misdaad is en dus tersyde gestel behoort te word.

Hulle sê om mee te begin, is die bewerings waarop die staat sy saak van korrupsie teen Shaik gebou het (naamlik, in “onderhandelinge” met Zuma), op sigself bewys dat geen beslagleggingsbevel gemaak moes gewees het nie.

Die sogenaamde “toetrede” van Zuma om Shaik te help met die verkryging van belange in buitelandse maatskappye (wat sake met die regering doen) het plaasgevind toe sulke onderhandelinge lank reeds aan die gang was.

Daar was dus geen oorsaaklike verband tussen Shaik se verkryging van die belange en die sogenaamde korrupte verhouding tussen Shaik en oud-adj.pres. Jacob Zuma nie, beweer die regspan. Maar selfs as bevind word dat daar wel só ’n oorsaaklike verband is, is die beslagleggingsbevel heeltemal buite verhouding tot die erns van die misdaad van korrupsie, waarvoor Shaik reeds die swaarste straf moontlik gekry het.

“Shaik en sy maatskappy is gestraf vir hul misdaad.

“Dit is in die belang van die regspleging dat die konstitusionele hof die beginsel van proporsionaliteit van beslagleggingbevele ondersoek en daaroor uitspraak lewer,” voer Shaik se regspan aan..

Shaik se betooghoofde in verband met sy appèl teen sy skuldigbevinding word vandeesweek ingedien.

Met erkenning aan Philip de Bruin en Beeld.