Net Betrokke Universiteit kan ’n Kwalifikasie Terugtrek |
Publication |
Beeld |
Date | 2007-05-30 |
Reporter |
Alet Rademeyer |
Web Link |
Die gehalte van grade wat toegeken word, is universiteite se verantwoordelikheid.
Die hoëronderwys-gehaltekomitee, die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se permanente gehalteversekeringskomitee, meng nie by enige van dié prosesse in nie. Só het dr. Liz Lange, uitvoerende direkteur van dié komitee, gister by navraag gesê.
Beeld by wou Lange weet in watter mate die RHO kan ingryp by bewerings van ongeldige kwalifikasies nadat ’n storm rondom die doktorsgrade van onderskeidelik oudpres. Jean-Bertrand Aristide en mnr. Chippy Shaik losgebars het.
Universiteite se akademiese komitees is verantwoordelik vir die toelating van kandidate tot graadstudies, die goedkeuring van navorsingsvoorstelle, toesighouding en uiteindelik ook vir die eksaminatore wat die proefskrifte en dissertasies assesseer om kwalifikasies toe te ken.
Akademici het Aristide se doktorsgraad as ’n klug afgemaak en in Shaik se geval is bewerings gemaak dat hy sy doktorsgraad in ingenieurswese onregmatig bekom het en glo ook plagiaat gepleeg het. Lange het gesê die gehaltekomitee is betrokke by nagraadse onderrig deur oudits wat hy doen van universiteite se gehalteversekeringsmeganismes.
Die hooftake van die gehaltekomitee, wat in 2001 aangewys is, is die akkreditasie van hoëronderwys-programme, die oudit van instellings, gehaltebevordering en kapasiteitsontwikkeling. Volgens Lange gryp die gehaltekomitee nie in by individuele grade wat ’n universiteit toeken nie. Dit kan wel kwessies met universiteite opneem om vas te stel watter reëlings hulle vir gehalte-versekering het.
Die komitee kan ook by universiteite uitvind oor wat hulle doen as daar grondige bewerings is oor grade van ’n swak gehalte wat toegeken is en dit die publiek se persepsie van die betrokke kwalifikasies kan beïnvloed. Lange het gesê die gehaltekomitee doen nie onafhanklike ondersoeke na grade wat toegeken is nie.
Die komitee sal tydens sy ouditproses kyk na interne stelsels wat gelei het tot die toekenning van grade op voor- en nagraadse vlak. Lange het voorts gesê net die instelling wat die kwalifikasie toegeken het, kan die grade nietig verklaar.
’n Proses moet egter hiervoor bestaan.
’n Betrokke instelling se akademiese meganismes moet navrae oor kwalifikasies of die geldigheid daarvan doen.
Met erkenning aan Alet Rademeyer en Beeld.