Nuwe Wapenvrae oor Mbeki ná KPMG-Bevindinge |
Publication |
Beeld |
Date | 2007-04-18 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Daar is opnuut vrae oor pres. Thabo Mbeki se vergaderings met die Franse wapenfirma Thales, wat glo omkoopgeld aan mnr. Jacob Zuma, ANC-onderleier, betaal het.
Die ouditeursfirma KPMG het bevind me. Barbara Masekela, Suid-Afrika se voormalige ambassadeur in Frankryk wat luidens amptelike dokumente die vergaderings tussen Mbeki en Thales gereël het, is in ’n “direkte sakeverhouding” met die man wat die Skerpioene beweer Thales se agent was in Suid-Afrika.
Mnr. Jurgen Kögl, skatryk Johannesburgse makelaar en besturende direkteur van African Renaissance Holdings (ARH), was glo Thales se agent, maar hy het tot dusver enige verbintenis met dié wapenreus ontken.
Beeld is in besit van ’n uittreksel uit KPMG se forensiese verslag wat voorberei is vir die staat se saak teen Zuma wat verlede jaar sou begin. Dié uittreksel vorm deel van die Skerpioene se versoek vir wedersydse regsbystand aan Brittanje (sien hiernaas). Luidens die verslag het Kögl nie net vir Zuma betaal nie, maar ook ander “regeringsamptenare en/of politici”.
Een van hulle is Masekela, wat tans Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA is. Haar naam kom in interne Thales-kommunikasie voor. Daarluidens het sy glo in 1998 vergaderings tussen Mbeki, tóé adjunkpresident, en die Thales-base gereël. Mbeki was voorsitter van die kabinetskomitee wat die omstrede wapentransaksie van R30 miljard moes bestuur.
Mbeki kon sover nie die vergaderings met Thales onthou nie.
Die KPMG-verslag werp egter nuwe lig op Masekela se verbintenis met Kögl, wat op sy beurt ’n familievriend van Mbeki is. Tot dusver was die enigste bewys van ’n verhouding tussen Masekela en Kögl ’n gekodeerde faks wat in 1999 deur mnr. Alain Thétard, voormalige hoof van Thales se Suid-Afrikaanse filiaal, Thint, aan sy hoof in Parys gestuur is.
Daarin sę Thétard: “Barbara het ook verduidelik dat, weens etiese redes, omdat sy ambassadeur in Parys was tot 1998, dit nie vir haar moontlik is om in ’n direkte sakeverhouding met ’n Franse maatskappy te wees nie, wat haar verhouding met J. Koegl (sic) verduidelik.”
Nóú het KPMG bevind dat Masekela inderdaad ’n “direkte sakeverhouding”
met “Kögl en/of maatskappye wat verbind word met Kögl” gehad het.
Die belangrikste maatskappy is Cay Nominees, waarvan Kögl die enigste direkteur
en aandeelhouer is. Cay Nominees se finansiële rekords vir 2005 wys glo dat
R778 200 deur dié firma aan Masekela en Mabusele Investments, waarvan sy ’n
direkteur is, betaal is. Cay Nominees het ook betalings gemaak aan oudmin.
Penuell Maduna en individue waarvan net die voorletters bekend is (TM, AP en
MM). Mbeki het vandeesweek ontken dat hy “TM” is of geld van Kögl ontvang
het.
Kögl het alle navrae na sy prokureurs verwys wat nie wou reageer nie omdat die
saak deel is van ’n “uitstaande regsproses”.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.