Weermag Druk Deur met sy 'Wit Olifant' |
Publication |
Die Burger |
Date | 2007-02-24 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
Die departement van verdediging gaan deurdruk met die bou van ’n multimiljoenrand-ammunisievernietigingsaanleg as deel van die omstrede wapentransaksie, ten spyte van waarskuwings dat die aanleg ’n duur wit olifant gaan word.
Mnr. January Masilela, sekretaris van verdediging, het gesê die finale plan vir die aanleg én ’n moontlike tweede mobiele aanleg behoort einde vandeesmaand goedgekeur te word.
Dit sal die weermag sowat R80?miljoen tot R100?miljoen per jaar kos om sy ammunisie in die aanleg te laat vernietig.
Ná vyf jaar kan die regering of ’n sakeman die aanleg teen ’n geraamde R240?miljoen koop.
Andersins moet die weermag die ontwikkelaar genoeg besigheid waarborg vir ’n verdere vyf jaar, met ’n totale onkoste dus van sowat R1?miljard.
Die nuwe aanleg gaan sy beslag kry as ’n teenhandelprojek van SAAB/BAE Systems, vervaardigers van die Hawk- en Gripen-vegvliegtuie wat deel was van die multimiljardrand-wapentransaksie.
“Ek is absoluut oortuig daarvan dat dit die mees koste-doeltreffende plan is,” het Masilela gesê “
Dit is nié ’n wit olifant nie. Al die vereiste haalbaarheidstudies is gedoen – ook deur die departement van handel en nywerheid.
Die aanleg sal ’n bate vir die hele Suider-Afrika wees.” In Walvisbaai staan egter ’n soortgelyke, kleiner aanleg reeds vir ’n paar jaar in onbruik.
Destyds is ook gesê dat dit ’n bate vir die streek sou wees, sê militêre kenners.
Hulle spook reeds jare lank met die kwessie van die sowat 140?000 ton ammunisie in die weermag se drie wapendepots in De Aar, Jan Kempdorp en Mookgopong (Naboomspruit).
Besonderhede oor die beplande aanleg word streng geheim gehou. Volgens mnr. Stephen Laufer, woordvoerder van die vervaardigers, sal die publiek insae kry as deel van ’n proses van openbare deelname.
Volgens militêre kenners is die weermag nie in die haalbaarheidstudie geken nie en was daar ook nie openbare mededinging nie, aangesien ’n teenhandelprojek nie op tender uitgaan nie.
Die beplande aanleg sal na verwagting hoogstens drie of vier jaar besig wees met Suid-Afrika se ammunisie, waarna ander voorrade na Suid-Afrika vervoer sal moet word om dit koste-doeltreffend te bedryf.
Dit is egter nie bekend of enige ander lande in die streek geken is om hul behoeftes in ag te neem nie.
Volgens een kenner is die rede waarskynlik omdat ’n land soos Angola nie die geld of die infrastruktuur het om die ammunisie oor landsgrense heen te vervoer nie. Laufer het ook nie gesê waar die aanleg opgerig gaan word nie, maar vroeër is Alkantpan naby Prieska in die Noord-Kaap as moontlikheid genoem.
In die verlede is ammunisie in die diepsee gestort, maar omgewingsbewaringswetgewing verbied dit.
Met herkenning aan Erika Gibson en Die Burger.