Skoorsoek op die wapenspoor |
Publication |
Die Burger |
Date | 2009-03-09 |
Reporter | Pieter du Toit |
Web Link |
Amper vyf jaar lank het mnr. Eddie Trent gestoei om die wapenskandaal
terug op die parlement se sakelys te plaas. Aan die vooraand van sy aftrede as
DA-LP het hy aan PIETER DU TOIT vertel watter gesukkel dit was.
Dit was net ’n bietjie meer as ’n jaar gelede, aan die begin van Februarie 2008,
toe die DA-LP mnr. Eddie Trent (69) gedink het hy het ’n deurbraak gemaak.
In een van die parlement se kleinste komiteekamers, ’n benoude vertrek twee
verdiepings bo die Nasionale Vergadering (NV), het sy kollegas in die staande
komitee oor openbare rekeninge (Skoor) dikmond ingestem om opnuut na bewerings
oor die regering se omstrede multimiljardrand-wapentransaksie te kyk.
Trent het gemeen hy het ’n voet in die deur: “Ek wou dit net weer op die tafel
plaas – dalk kon ons ’n debat daaroor aan die gang kry.”
Ná die vergadering daardie dag het hy verslaggewers op sy kenmerkend
geheimsinnige manier eenkant toe gevat en in sy vertroue geneem. Hy het nuwe
bewyse losgegrawe; hy sit met mense wat bereid is om te praat, het hy in ’n
fluisterstem vertel, maar sommige vrees vir hul lewe.
Die eerste hekkie is hy oor. “Nou moet ons net vergader en hoop vir die beste!”
het hy gesê.
Dit was ’n lang vyf jaar sedert hy in 2004 parlement toe gekom het, en 2008 was
die langste jaar van almal.
Skoor se besluit van Februarie 2008 was die laaste wat die komitee daardie jaar
aan die wapentransaksie gedoen het. Vergaderings is afgelas, en komiteesittings
is uitgestel.
Trent se pogings om die vertragings op te haal, is om elke hoek en draai
gepootjie, meestal deur die ANC-lid mnr. Vincent Smith.
Die wapentransaksie is van die sakelys afgehaal; die kere dat dit wel op die
agenda verskyn het, was daar nie ’n kworum nie; en ander kere wanneer die
vergadering nie afgelas, uitgestel of Trent buite orde geroep is nie, het die
parlement in reses gegaan.
Weke het maande en eindelik ’n volle jaar geword. Níks het gekom van Skoor se
besluit in Februarie 2008 nie.
‘Spring Daarop’
Tot by Skoor se héél laaste sitting drie weke gelede.
Die nasionale vervolgingsgesag het verduidelik waar hy met die enkele
oorblywende ondersoeke staan, dat hy op die spoor van gesiene Suid-Afrikaners is
en dat daar met oorsese wetstoepassingseenhede gewerk word. Maar, is aangevoer,
hy het net drie ondersoekers wat aan die saak werk.
Die departement van handel en nywerheid het die oë ook laat rek.
Dié departement is verantwoordelik vir die bestuur van teenhandelsooreenkomste,
wat deel van die kontrakte met buitelandse wapenvervaardigers is. Laasgenoemde
sou miljarde rande in volhoubare ondernemings in Suid-Afrika moes belê, en dit
sou in teorie tot die skep van 65 000 vaste werkgeleenthede lei.
Hoeveel werkgeleenthede geskep is, hoeveel geld belê is en of die projekte
volhoubaar bestuur word, is egter onduidelik.
“Kan jy glo? In die laaste week wat ons sit, kom al hierdie goeters uit. Wie
weet wat nog alles kan uitkom? Ek het op die laaste dag meer vordering gemaak as
in die 4½ jaar tot nou . . .” sê Trent en sug.
Hy tree binnekort ná 28 jaar uit die politiek, die meeste daarvan as lid van die
ou Kaaplandse provinsiale administrasie se Skoor, van 1989 tot 1994 as LP en toe
as lid van die Oos-Kaapse Skoor in Bhisho. Dit was egter sy verkiesing tot die
NV in 2004 wat gelei het tot die grootste taak van sy politieke lewe.
“Ek het die verwikkelinge om die wapentransaksie gevolg terwyl ek nog in die
wetgewer in Bhisho was.
“Toe ek parlement toe kom, het ek op ’n dag in my
kantoor gesit toe Tony (Leon, destydse DA-leier) inkom en sê: ‘Eddie, het jy
Richard Young (een van die onsuksesvolle bieërs in die wapentransaksie) oor die
radio gehoor? Hier’s iets. Spring daarop.’ ”
Trent het vinnig gespring. Hy het deur die massas dokumente begin werk,
vergaderings belê met mense wat by die aanvanklike bodproses betrokke was en sy
voorregte as parlementslid gebruik om geklassifiseerde dokumente te bekom.
“Ek het die laaste jare taamlik baie kennis opgedoen en inligting bymekaargemaak.
Die een groot frustrasie wat ek deurentyd gehad het, was die ANC se standpunt
dat hulle dit slegs sal bespreek indien ek met nuwe bewyse kom.
“Die bewyse moes totaal nuut wees. Dit is mos onmoontlik! Alles met hierdie
transaksie is verbind, alles hou verband met mekaar.”
Op Die Nippertjie
Die middelpunt van die twis bly die verslag van die gesamentlike taakspan
wat in 2001 gepubliseer is. Dié taakspan het bestaan uit Skoor, die
ouditeur-generaal en die openbare beskermer.
Daar is wyd bewerings dat dit gesuiwer is om sekere bevindings te verdoesel,
mense te verontskuldig en die ware omvang van die beweerde korrupsie weg te
steek.
Dit kon egter nog nooit bewys word nie, want Skoor, die verantwoordelike
parlementêre oorsigliggaam, weier om dié bewering te oorweeg.
Die frustrasie, sê Trent, is die feit dat die ANC volhou die verslag is bo
verdenking en dat dit die laaste oordeel oor die transaksie is.
Tot in Februarie verlede jaar. “Ek het my kollegas oortuig dat ons ten minste
moet kyk na die uitvoering van die verslag se aanbevelings. Ek was oortuig ons
het net ’n voet in die deur nodig om dit oop te maak, en daarin het ons geslaag.
“Dit het gelei tot ’n vloedgolf van nuwe bewyse en inligting. Ek het die
afgelope jaar méér inligting daaroor gekry as in die vorige vier jaar.”
Maar namate dit duidelik geword het dat Skoor se ondersoeke nie net by die
taakspan se aanbevelings sal bly nie en dat dit kan uitbrei, het die ANC met sy
vertragingstaktiek begin en dit reggekry om dit in werklikheid ’n jaar lank te
keer.
“Die uiteinde is dat hulle hierdie veldslag gewen het, maar hulle gaan nié die
oorlog wen nie. Hierdie ding sal nooit weggaan nie. Daar is net heeltemal te
veel mense wat te veel weet. Ek is oortuig daarvan. Dit sal nie weggaan nie,
want nie net sal die parlement daarvan seker maak nie, maar die publiek ook,” sê
Trent beslis.
“Dit is die grootste korrupsie-en-bedrog-skandaal wat die land tot nog toe
gesien het. Dit het reeds die politieke loopbaan van een staatshoof gekos en sal
na alle waarskynlikheid ook die politieke loopbaan van die land se
aspirantpresident kos.”
Hoe voel dit om, ná al die jare en die geswoeg om inligting te kry, op die
nippertjie gepootjie te word?
“Ons is LP’s, man!” raak hy driftig. “As Skoor enigsins ernstig oor die saak
was, sou ons aansoek gedoen het om voort te gaan met ons werk tot en met die
verkiesing . . . ons ontvang immers nog tot 22 April ’n salaris.
“Maar daar gaan niks gebeur nie. Dit is baie frustrerend.”
Geheime Kluis
Daar is baie vrae wat Trent nog wil stel, selfs al is dit op geslote
vergaderings waar die publiek en die media nie toegelaat word nie.
Hy het kontak met vreemde karakters, van wie een
“net so ’n groot mes by hom dra en wat meen in hierdie (wapen)bedryf kan
’n mens nie jou rug vir ’n oomblik draai nie”. Sy informante is deel van die
skaduwêreld van wapenhandel, plaaslik en oorsee.
Die bewyse oor wie se handpalms blink gevryf is met omkoopgeld, is wel daar, en
Trent vertel van ’n kluis êrens waar die hele verhaal opgesluit lê. “Moet net
nie skryf waar dit is en wie se kluis dit is nie.”
Sy ruim kantoor in die Kaapstadse Marksgebou, met die kantore van parlementêre
opposisiepartye, is amper leeg. In die een hoek staan kartonbokse vol lêers,
alles op pad terug Port Elizabeth toe waar sy vrou, Elizabeth, ’n plaaslike
raadslid, op hom wag. Teen die mure is portrette van ou volksrade, wetgewers,
koukusse en komitees.
Die ANC wil nie korruptes vastrek nie, en sonder die regerende party se
toewyding gaan dit moeilik wees om korrupsie vas te vat, sê hy.
“Die politieke wil ontbreek. Dit is net nie daar nie. Die ANC en die regering
het baie geleenthede gehad om te wys hulle is verbind tot deursigtigheid, maar
het nie één gebruik nie.”
Trent is nog tot 22 April ’n LP, dan tree hy af om naweke op ’n kleinhoewe by
Steytlerville saam met sy vrou met olywe te gaan boer. Ver van konfrontasies met
Smith, ’n halsstarrige ANC en geheime dokumente in kluise.
“Die laaste jare op die wapenspoor was absoluut
fassinerend . . . die internasionale wapenbedryf is ’n interessante plek.
Nee, ek dink nie die wapentransaksie is ’n
obsessie nie – net . . . interessant.”
With acknowledgements to Pieter du Toit en Die Burger.