‘Gestaakte Vervolging Slag vir Wapenbedryf’ |
Publication |
Volksblad |
Date | 2009-04-07 |
Reporter | Gert Coetzee |
Web Link |
Die “skandelikste dag in Suid-Afrika se
moderne geskiedenis” met groot reperkussies vir die land
se aansien in die internasionale wapenbedryf.
Só het Suid-Afrikaanse kenners van die wapenbedryf gister gereageer oor die
Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aankondiging dat die vervolging van mnr.
Jacob Zuma weens wapenbedrog gestaak gaan word.
Dr. Richard Young,
hoof van die Kaapse maatskappy C²I², betreur dit dat ’n “misdadige maatskappy”
soos Thales International steeds op “misdadige wyse” in die internasionale
wapenbedryf kan sake doen.
Hy meen ook die aanklagte is op “bedrieglike wyse” teruggetrek omdat “watter
prosesmisbruik daar ook al kamtig oor tydsberekening was”, geen uitwerking op
die vervolging inhou nie.
Mnr. Hennie van Vuuren is hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se
program oor korrupsie en staatsbestuur wat op onder meer “skoon”
regeringsdeelname ook in die internasionale wapenbedryf gerig is.
Van Vuuren meen die omstrede wapensage is nog ver van afgehandel. “Niks dui
daarop dat hy (Zuma) nie geïmpliseer is nie of dat daar nié internasionale
korporasies is wat sodanige omkoopgeld betaal nie.”
Volgens Van Vuuren is die regte terugslag die gebrek aan geloofwaardigheid wat
nou aan “onafhanklike instellings” soos die NVG kleef weens die onvermoë om
werklik “magtige verdagtes” se betrokkenheid in die wapentransaksie te ondersoek
en oop te vlek.
“As ons werklik korte mette van korrupsie op die hoogste vlak in Suid-Afrika wil
maak, moet die wapentransaksie behoorlik deurgetrap word.
“Dit kan nie geskied ingevolge ’n rits tegniese argumente, soos aangevoer is nie.”
Hy meen slegs ’n ware onafhanklike ondersoek na alle beweringe, rakende Zuma en
andere, kan die sage oopvlek.
“Dit moet meer as ’n geregtelike ondersoekkommissie wees, maar met ruimte vir ’n
onafhanklike ondersoekspan na die hele wapentransaksie wat dalk aan die NVG
verslag doen. Dit sal die geloofwaardigheid herstel van die instellings wat
veronderstel is om toe te sien dat rykes en magtiges vervolg word.
“Voorts ondermyn mense soos mnr. Leonard McCarthy se betrokkenheid in politieke
speletjies die oppergesag van die gereg in die land.”
Die ISS se boodskap aan Brittanje, Duitsland en Swede is om nie hul eie
ondersoek na die wapentransaksie te laat vaar nie.
Young het jare ’n hofstryd op eie koste gevoer teen die departement van
verdediging oor beweerde ongerymdhede met die laat aanvaarding van Thomson-CSF
se wapenbod bó sy eie maatskappy se veel laer bod in die omstrede
wapentransaksie.
Volgens hom is gister se verwikkeling “skreiend” omdat ’n “verdagte met soliede
en ernstige aanklagte teen hom” én die wapenvervaardiger Thint skotvry daarvan
afgekom het.
“Die skande vererger deurdat die NVG se nasionale adjunkdirekteur én hoof van
die direktoraat vir spesiale ondersoeke ter wille van eie gewin met sy vorige
hoof gekonkel het.”
With acknowledgements to Gert Coetzee and Volksblad.