Publication: Die Burger Issued: Date: 2010-07-12 Reporter: Erika Gibson

Hoë in vloot van aanranding aangekla

 

Publication 

Die Burger

Date 2010-07-12
Reporter Erika Gibson

 
Pretoria:’n Vlootadmiraal is van aanranding aangekla nadat hy na bewering ’n tingerige Chinese winkeleienaar geklap en haar seun glo met ’n verwarmer gemoker het.

Die admiraal het op sy beurt ook ’n klag teen die seun ingedien. Ironies genoeg was skout-adm. (junior graad) Ralph Ndabambi tot einde verlede jaar Suid-Afrika se militêre attaché in China. Hy is tans die hoof van vlootmagte-personeel in Simonstad.

Die voorval het onlangs een Saterdagoggend plaasgevind toe hy glo by ’n R5-winkel in Vishoek in ’n argument met die winkeleienaar betrokke geraak het.

Volgens die People’s Post het ’n ooggetuie vertel daar het ’n kabaal in die winkel ontstaan toe ’n grootgeboude man aan ’n ander klant gesê het die winkel verkoop gemors.

Die winkeleienaar het aan hom gesê as hy nie gelukkig is met die winkel se voorraad nie, moet hy eerder die winkel verlaat.

Die volgende oomblik het die man die vrou glo geklap dat sy “van ’n muur afgebons het”.

Die winkeleienaar se seun het agter uit die winkel vorentoe gestorm en met die man begin stoei.

Die volgende oomblik het die man die seun met ’n verwarmer, wat hy onder sy arm gehad het, geslaan. Die seun se neus was vol bloed en sy bolip is oopgeslaan, het die ooggetuie beweer.

Die gestoei het vervolgens glo buite die winkel en in die straat af voortgeduur.

Na verneem word, beweer Ndabambi die vrou het eerste haar vingers in sy o gedruk. Ao. Chris Cloete, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen Ndabambi by Vishoek se polisiekantoor aanhangig gemaak is.

Skout-adm. Rusty Higgs, vloot-vlagoffisier in Simonstad, het by navraag gesê Ndabambi was van diens af en nie in uniform nie toe die voorval gebeur het. Die hoof van die vloot, vise-adm. Johannes Mudimu, sal volgens Higgs op enige verdere stappe besluit namate meer getuienis beskikbaar word. Tugstappe teen hom sal deur die uitslag van die hofsaak bepaal word.

With acknowledgements to Erika Gibson and Die Burger.