Kaapstad. – Die parlement het die regering se omstrede
multimiljardrand-wapentransaksie weer op sy sakelys geplaas en
gaan aanstaande maand vier dae afstaan om omstrede nuwe bewyse,
dokumente en getuienis te oorweeg.
Dit kan daartoe lei dat vername rolspelers in die sluiting van
die wapenkontrakte, insluitend oudpres. Thabo Mbeki en mnr.
Mosiuoa Lekota, ’n voormalige minister van verdediging, geroep
kan word om voor parlementslede te verskyn.
Mnr. Themba Godi, LP van die African People’s Convention en
voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor),
het bevestig die wetgewer sal volgende maand ’n lywige
voorlegging van die sakeman dr. Richard Young oorweeg.
“Dit wat Young aan die
parlement voorgelê het, is nuwe inligting.
Ons gaan bepaal in watter mate dit die kwessie vorentoe kan neem
en sal ons laat lei deur die bewyse wat voorgelê word.”
Young, wie se maatskappy CCII Systems die tender vir die vloot
se nuwe korvette verloor het, het verlede jaar ’n verslag aan
Skoor oorhandig waarin beweer word die ouditeur-generaal,
openbare beskermer en die nasionale vervolgingsgesag het
bevindings van die gesamentlike ondersoekspan bekook.
Hy grond dié bewerings op dokumente wat nie in 2000, toe die
ondersoekspan die wapentransaksie ondersoek het, beskikbaar was
nie. Mbeki, Lekota en mnr. Trevor Manuel, nou
beplanningsminister, word betrek.
Volgens ’n ontleding van Young se verslag deur die DA is die
ondersoekspan se voorlopige bevindings deurspek van aanpassings,
uitlatings en veranderings.
Handgeskrewe aantekeninge deur iemand waarvan die identiteit nie
bekend is nie, kom oral voor, terwyl die name van Mbeki, Manuel
en Lekota in kantlyne gekrap staan.
Van die vername aanpassings sluit in:
Die bevinding dat daar “beduidende leemtes” in die
aanwysing van BAE en SAAB as voorkeurkontrakteurs vir die
aankoop van vegvliegtuie is, is heeltemal weggelaat;
’n Afdeling oor wyses waarop mnr. Joe Modise, ontslape
voormalige minister van verdediging, die BAE/SAAB-tender
beïnvloed het, is heeltemal weggelaat;
Die OG se ganse bevinding oor die proses rondom die BAE/SAAB-tender
word omgekeer. Pleks van ’n bevinding oor ministeriële
inmenging en bevoordeling lui dit die proses was bo
verdenking en daar is “geen gronde” vir agterdog nie.
With acknowledgements to
Pieter du Toit and Beeld.
When one does not at first
succeed, try and try and try again.
It's taken about two years to get this far and that's just the
latest round.
When one does not at first succeed, try and try and try again.
Kaapstad. – Die wapen-skandaal-sweer het gister opnuut
oopgebars toe moontlik verdoemende getuienis – wat hoë politici
se loopbane kan sink – aan parlementslede voorgelê is.
Lede van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het
’n lywige voorlegging ontvang waarin geïmpliseer word oudpres.
Thabo Mbeki en mnre. Trevor Manuel en Mosiuoa Lekota het
verdoemende bevindings oor dié wapentransaksie toegesmeer.
Dié voorlegging van meer as 600 bladsye is vroeër vanjaar deur
die Kaapse sakeman dr. Richard Young, wie se maatskappy CCII
Systems die tender vir die vloot se nuwe korvette verloor het,
ingedien. Volgens hom was dié dokumente nie in 2000 beskikbaar
toe die gesamentlike ondersoekspan die wapentransaksie onder die
loep geneem het nie.
Dié span, bestaande uit die ouditeur-generaal, die openbare
beskermer en die nasionale direkteur van openbare vervolging,
het in November 2001 in ’n verslag aan die parlement bevind daar
was nie bewyse om te staaf die regering het “onwettig of
onbehoorlik” opgetree nie.
Die dokumente wat Young voorsien het, wys egter glo hul
voorlopige verslag is aansienlik gedokter.
Volgens ’n voorlopige ontleding deur die DA is dié verslag
deurspek van aanpassings, uitlatings en veranderings.
Handgeskrewe aantekeninge (waarvan die skrywer onbekend is) kom
orals voor, terwyl die name van Mbeki, Manuel en Le-kota ook in
van die kantlyne geskribbel staan.
Van die vername aanpassings sluit in:
) Die bevinding dat daar“beduidende leemtes” in die aanwysing
van BAE en SAAB as voorkeurkontrakteurs vir die aankoop van
vegvliegtuie is, is heeltemal weggelaat. In plaas daarvan is ’n
paragraaf bygevoeg wat sê daar was geen bewyse van
“ongerymdhede, bedrog of korrupsie” aan regeringskant nie;
) ’n Afdeling oor wyses waarop mnr. Joe Modise, ontslape
voormalige minister van verdediging, die BAE/SAAB-tender
beïnvloed het, is heeltemal weggelaat. Selfs die titel van die
afdeling is verander na: “Die visioenêre benadering van die
minister van verdediging”; en
* Die ouditeur-generaal se ganse bevinding oor die proses rondom
die BAE/SAAB-tender word omgekeer. Pleks van ’n bevinding oor
ministeriële inmenging en bevoordeling, lui dit die proses was
bo verdenking en daar is “geen gronde” vir enige agterdog nie.
Dit wil ook voorkom of die opstellers van die finale weergawe
onder regeringsdruk was. ’n Handgeskrewe aantekening impliseer
Mbeki, Manuel (voormalige minister van finansies en nou
beplanningsminister) en Lekota (voormalige minister van
verdediging en nou president van Cope) het vóór die opstel van
die finale weergawe aan die skrywer terugvoering gegee oor
sekere kwessies in die verslag.
Volgens die DA lyk dit of Manuel opdrag gegee het die verslag
moet dit duidelik stel die regering het met die gesamentlike
ondersoekspan saamgewerk.
Mbeki het op sy beurt klaarblyklik versoek “die integriteit van
ondersoekliggame” moet beskerm word. Dit het alles glo op ’n
vergadering in Oktober 2001 gebeur.
Mnr. Mark Steele, DA-LP en lid van Skoor, het in reaksie gesê:
“As dié onthullings waar is, is dit skokkend. Ons moet dit tot
op die been oopvlek.”
Mnr. Themba Godi, LP van die African People’s Conven-tion en
Skoor se voorsitter, het gisteraand gesê komiteelede sal binne
die volgende drie weke besluit of die betrokkenes voor die
komitee moet verskyn.
Volgens Godi kan ’n nuwe kommissie van ondersoek na die R30
miljard-wapentransaksie net volg indien Young se voorlegging
inderdaad “nuwe en betekenisvolle getuienis” oplewer dat
korrupsie wel plaasgevind het.
“En met ‘nuwe getuienis’ bedoel ek dit (die beweerde wysigings
aan die finale verslag) moenie bloot veranderings aan die
skryfstyl of grammatika wees nie.”
When one does not at first
succeed, try and try again.