Shaik ‘kluts kwyt’, kry behandeling |
Publication |
Rapport |
Date | 2011-06-04 |
Web Link |
Die veroordeelde bedrieër
Schabir Shaik word behandel vir ’n geestesiekte en is op die rand van ’n
senu-ineenstorting.
Daar word bespiegel dat hy gediag¬noseer is met narcistiese
persoonlikheidversteuring, dalk ski¬sofrenie.
Dié toestand, glo familie en vriende, gee aanleiding tot sy onvoorspelbare gedrag, soos sy onlangse bewering dat hy die slagoffer was van ’n rassistiese aanval in ’n Durbanse gholfklub.
Shaik sou glo vier rassiste gekonfronteer het wat glo kliphard onder meer na pres. Jacob Zuma as ’n k****r verwys het.
’n Bron met wie Rapport gepraat het, sê hy sal nie verbaas wees as die beweerde aanval by die Papwa Sewgolum-gholfbaan ’n blote versinsel is nie.
Die omstrede Durbanse sakeman se lewe is boonop in ’n krisis, sê mense na aan hom.
Sy sakebelange het onder hom ineengestort en sy vrou het die huis verlaat (hoewel hulle nog amptelik getroud is). Verder is daar ook wrywing in die voorheen noue Shaik-broederskap.
Die Shaik-familie wou nie gister op rekord praat nie, maar mense na aan die gesin het gesê hulle vrees hy is op die rand van ’n ineenstorting.
Volgens hulle het Shaik psigiatriese behandeling ondergaan en hy gebruik stabiliseringsmedikasie vir sy toestand.
Mense wat met hom praat, glo hy lewe in ’n verwronge realiteit. Verskeie mense wat simpatiek is oor sy omstandighede meen dat hy al hoe meer aggressief raak.
“Hy is ’n man wat alleen in ’n kasteel is met net een werker en ’n veiligheidswag. Hy bly in ’n verglansde hok,” het ’n familielid gesê.
Shaik het nie gister dié beoordeling van sy geestestoestand ontken toe hy daaroor gevra is nie. Hy het bloot gesê: “Ek dink nie ek wil voortgaan met hierdie gesprek nie.”
Bykomend tot die sielkundige behandeling wat Shaik ontvang, is hy ook na verskeie imams en godsdienstelike beraders geneem, wat hom diep gelowig gemaak het.
Sy familie is baie bekommerd oor sy toestand en die stigma wat in Suid-Afrika met geestesversteuring gepaardgaan.
Shaik, voormalige finansiële adviseur van pres. Jacob Zuma en die broer van mnr. Mo Shaik, hoof van die Suid-Afrikaanse Geheime Diens (SAGD), is in 2005 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van korrupsie. Hy is te midde van omstrede omstandighede kort daarna op grond van mediese redes op parool vrygelaat.
Shaik het die afgelope Sondag in die Sunday Times beweer hy is deur die vier mans in die gholfbaan se kroeg aangeval toe hy die president se eer verdedig het. Hy het later wéér aan Media24 se ondersoekspan gesê dat hy aangeval is.
Vroeër vanjaar het Shaik glo ’n man by ’n Durbanse moskee aangeval, maar ’n klag is nooit aanhangig gemaak nie. Hy word ook ondersoek nadat hy vroeër vanjaar glo ’n joernalis by die einste Papwa Sewgolum-baan aangerand het. Die nasionale vervolgingsgesag moet besluit of die vervolging voortgaan.
Media24 se ondersoekspan het die afgelope week sowat 50 spelers en werkers by die klub ondervra.
Hieronder was ’n groep van 30 baljoggies, die baljoggiebestuurder, ander werkers, asook veiligheidspersoneel, amptenare en lede.
Niemand kon gevind word wat die beweerde voorval gesien of daarvan gehoor het nie. Almal het gesê die eerste wat hulle daarvan gehoor het, was wat in die Sunday Times berig is. Die klub het amptelik gesê so ’n voorval het nooit plaasgevind nie.
Gister het koerante mnr. Krish Dudhraj, ook ’n lid van die gholfklub, aangehaal wat beweer hy was by toe Shaik aangeval is.
Dié berigte het egter verswyg dat Dudhraj leier is van die “Free Shaik Now”-groep, wat ’n veldtog vir sy kwytskelding op die internet voer.
Dudhraj daag by die klub op met ’n motor wat vol “Free Shaik Now”-plakkers geplak is, het lede gister gesê. Hy was ook een van die hoofrolspelers in ’n openbare veldtog om die Durbanse joernalis wat glo deur Shaik aangeval is, te probeer diskrediteer. Dudhraj was gister baie onseker oor wat presies hy alles van die “aanval” gesien het.
Mnr. Aslam Peer, lid van die bestuurskomitee van die klub en amptelike woordvoerder oor die Shaik-voorval, het gister herbevestig niks het gebeur nie. “Ons het deeglik ondersoek ingestel en met al die werknemers, bestuurslede, ander spelers en veiligheidspersoneel gepraat. Daar was geen voorval soos die een waarna Shaik verwys nie.”
Peer het vroeër die afgelope week beaam dat Shaik nooit die kroeg (“19de putjie”) besoek het nie.
***
Bisarre SMS’e met ’n godsdienstige strekking en verbreekte beloftes het die afgelope week ’n blik gegee op die onstuimige geestestoestand van Schabir Shaik.
Met die besoek van Media24 se ondersoekspan aan sy huis, het Shaik die verslaggewer ingenooi.
Hy het in die oprit gesê selfs die generaals (van die polisie) het hom gebel het om te vra of hy ’n klag oor die aanranding by die gholfklub gaan indien.
“Ek gaan nie. Ek wag net vir my (presidensiële) kwytskelding en dan is ek vort oorsee. Ek is klaar met die haat van hierdie land,” het hy gesê. Hoekom soek jy my bloed?”
Shaik het intussen aan ander mediagroepe ontken dat hy van plan is om die land te verlaat.
Hy het Woensdag by sy huis se oprit gesê hy was te besig vir ’n onderhoud, maar dat die verslaggewer die volgende oggend om 11:00 moet terugkom om “alles te hoor”.
Op Afrikaans het hy gesê: “Jy het al die pad van die Kaap af gekom, so ek sal met jou praat.”
Hy het bygevoeg dat hy nie die verslaggewer sal aanval nie. “Want dit lyk of jy jou man sal kan staan.”
Donderdag om 11:00 het sy veiligheidswag gesê Shaik is nie tuis nie. Toe kom die volgende SMS-boodskap van Shaik se selfoon af: “Further to my legal advice regarding your request for a meeting, I wish to inform you that I am unable to concede to your request. Furthermore, I would appreciate that you respect my wish and stop the harassment and questioning of my security guards at my residence, failing which I will consider bringing a peace order against you and your organisation.”
Kort daarna is ’n oproep van Shaik ontvang waarin hy gesê het hy is baie jammer oor die SMS, maar dat die tydsberekening vir ’n onderhoud nie nou reg is nie.
“Daar is net een God en God is groot. Die volle waarheid sal nog uitkom. Kom kuier vir my as jy weer in Durban is, dan vertel ek jou die volle waarheid.”
Later die dag het hy die volgende bisarre SMS gestuur: “Everything in life has a timing – the truth itself is governed by time, for if God is truth and God is life then truth has a life of its own, it will never perish, nor can it be suppressed for too long – it always rises to the top.”
Intussen het die oud-politikus en familievriend Mac Maharaj gesê die trauma wat aktiviste-families deurgaan lei dikwels tot geestesversteuring.
“Ons het niks gedoen deur te sê kom ons behandel dit nie. Ons is almal in ontkenning. Ek kan jou familie na familie opnoem wat so geraak is,” het hy gesê.
***
Só het die gesprek verloop tussen Jacques Dommisse (JD) van Media24 se ondersoekspan en mnr. Krish Dudhraj (KD) oor die beweerde aanval op mnr. Schabir Shaik:
JD: Watter dag was dit?
KD: Ek kan nie mooi die dag onthou nie.
JD: Was dit op ’n Vrydag of Saterdag?
KD: Soos ek gesê het, ek kan nie die dag so mooi onthou nie.
JD: So jy kan nie onthou nie, maar jy speel gereeld gholf met mnr. Shaik?
KD: Nie baie gereeld nie.
JD: Nie baie gereeld nie? En was dit nadat jy saam met hom gholf gespeel het dat die aanranding gebeur het?
KD: Ja, ek dink dit was daarna.
JD: Jy dink dit was daarna?
KD: Ja.
JD: En presies wat het gebeur?
KD: Daar was vier ouens wat hom genader en op hom afgeloop het en ek dink hulle het hom aangerand.
JD: Maar het hulle hom geskop?
KD: Ja, een van hulle.
JD: En wat het jy toe gedoen?
KD: Ek het op hulle afgestorm. Ek was sowat 30?m daarvandaan en hy was op die grond, toe … maar hy het vir my gesê: “Krish, moenie dit doen nie, los hulle uit.” Ek het sy wens gehoorsaam. Ek respekteer sy opdrag. Toe los ek hulle en hulle het weggekom.
JD: Ek veronderstel hulle was ook lede van die klub?
KD: Nee, nee, vir my was hulle soos first-timers, want die lede is mense wat mnr. Shaik ken en hulle sal nie sulke dinge aanvang nie.
JD: Volgens aanhalings van jou in die media was dit vier Indiërmans?
KD: Dit het gelyk soos Indiërmans. Maar jy kan nie sê wie lyk soos wie nie.
JD: Dit het gelyk soos Indiërs?
KD: Ek het gesê vandag kan jy nie onderskei wie lyk soos wie nie. Daar is buitelandse Indiërs, daar is alle soorte Indiërs in die land. Ek kan nie onderskei nie. Dit het gelyk soos Indiërmans.
JD: Wat het toe gebeur? Het jy by die klub gebly, of geloop? Het hulle geloop?
KD: Ek het mnr. Shaik gehelp om by sy motor te kom.
JD: Terwyl dit gebeur het, was daar ander mense by julle?
KD: Uhm, daar was ander mense, ja.
JD: Kan jy onthou wie?
KD: Uhm, ja, ek ken hulle.
JD: Wat is hul name?
KD: Jy sien, die mense by die gholfbaan het geen kommentaar op dié ding nie en jy kan hulle nie dwing om te praat nie, jy weet wat ek sê? So, as ’n saak aanhangig gemaak is, sou ek jou die name gegee het.
JD: As die saak by die polisie aangemeld was, sou jy my die name gegee het?
KD: Ja, natuurlik.
JD: Ek ken die gholfklub nogal goed. Kan jy my sê presies waar dit gebeur het?
KD: Op die trappe wat uit die kroeggebied lei na die oefengebied waar die voertuie parkeer.
JD: Dit is eintlik binne-in die gholfklub?
KD: Dis reg.
Met erkenning aan Rapport.