Valke gooi tou op, maar DA veg voort |
Publication | Nuus24 |
Date |
2010-10-24 |
Reporter | Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Kaapstad - Die DA gaan stappe doen om te verseker
wetstoepassers se harde werk en navorsing oor die regering se
omstrede wapentransaksie gaan nie verlore nie.
Genl. Anwa Dramat, hoof van die direktoraat vir
prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), se aankondiging dat die
ondersoek na die wapentransaksie laat vaar word, het die doodsklok
vir die amptelike korrupsie-ondersoek gelui.
Te midde van groeiende protes dat die Valke besig is om moontlike
korrupsie voortvloeiend uit die wapentransaksie toe te smeer het die
DA nou ingegryp.
David Maynier, DA-LP en die party se woordvoerder oor verdediging,
gaan die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebruik om
die dokumentasie voortspruitend uit die korrupsie-ondersoeke te
bekom.
“Ons kan nie net terugsit en toelaat dat die Valke die ondersoek na
die wapentransaksie in die doofpot stop nie. Ons het dus versoeke
vir toegang tot inligting rakende alle dokumentasie oor die aankope
van strategiese wapens ingedien,” het Maynier gesę.
“Die feit bly staan dat daar honderde kartondose vol dokumente en
miljoene rekenaargeskepte dokumente oor die wapentransaksie in die
Valke se besit is.
“Ons moet daardie dokumente bestudeer, want dis baie moontlik dat
dit die grootste toesmeerdery van korrupsie in die geskiedenis van
Suid-Afrika aan die lig sal bring,” het Maynier gesę.
Maynier het dus vyf aansoeke om toegang tot inligting ingedien, wat
oor drie kwessies handel:
- Afsonderlike versoeke aan die departement van justisie en die die
departement van polisie om alle dokumentasie rakende die
wapentransaksie;
- Afsonderlike versoeke aan die departement van polisie en die
departement van justisie om alle dokumentasie rakende die
kansellering van die ondersoek na die wapentransaksie; en
- ’n Versoek aan die departement van justisie om alle dokumentasie
rakende wedersydse internasionale bystand met die ondersoek na die
wapentransaksie, veral die korrespondensie met Duitsland en
Brittanje.
Dit is nie duidelik hoe lank die staatsdepartemente gaan neem om op
die versoeke om dokumentasie te reageer nie.
With acknowledgements to Jan-Jan Joubert and Nuus24.