Sal ons uiteindelik die waarheid hoor? |
Publication |
Rapport |
Date | 2011-10-29 |
Reporter | Pieter Malan |
Web Link | www.rapport.co.za |
Soos die
meeste Suid-Afrikaners wat die afgelope dekade hul bes gedoen het om die
wapenskandaalsage te volg, was ek Donderdag aangenaam verras deur die
verwysingsraamwerk vir die ondersoek wat deur mnr. Jeff Radebe, minister van
justisie, aangekondig is.
Dis ’n opdrag wat die regters wat met die ondersoek gemoeid sal wees genoeg
beweegruimte gee om alle aspekte van die wapenskandaal te ondersoek en
boonop aanbevelings te maak oor die moontlike vervolging van die skuldiges.
Belangriker nog: As die regters hul werk goed doen, behoort ons ook te weet
of die wapens wat aangekoop is werklik nodig was en of die reuse-invloei van
beleggings en werkgeleenthede wat saam met die wapens sou kom, verwerklik
is. Die raamwerk vra selfs die regters om te ondersoek of daar genoeg rede
is om die kontrakte te kanselleer.
As verslaggewer het ek die afgelope dekade ’n baie beskeie deeltjie bygedra
om die wapenskandaal en die pogings om dit toe te smeer in die openbare oog
te hou.
Wie onthou nog oudpres. Thabo Mbeki se aanval in sy ANC Today-nuusbrief in
2003 waarin hy uitgevaar het teen die “vissers van korruptes en
jintelmanlitigeerders” wat hul bes doen om Afrika en sy leiers as “korrup
te tipeer”?
Die eerste mens wat ek dus Donderdag gebel het om te hoor wat hý van die
kommissie se verwysingsraamwerk dink, was die einste “jintelman-litigeerder”,
dr. Richard Young. Young, ’n elektroniese ingenieur, veg meer as tien jaar
lank al onverpoosd om die korrupsie rondom die wapentransaksie te openbaar.
Soos talle ander was hy ook aangenaam verras.
“Behalwe as ek skielik die vermoë verloor het om Engels te verstaan, kan ek
niks in dié verklaring sien waarvan ek nie hou nie. Ek kan niks sinister
hierin lees nie.”
Young sal waarskynlik een van die kerngetuies wees as die ondersoek onder
leiding van appèlregter Willie Seriti en regter Francis Legodi uiteindelik
begin.
“As ek nie as ’n getuie geroep word nie, kan jy maar weet die kommissie is
nie ernstig om uit te vind waar die korrupsie is nie.”
Young sê die afgelope dekade het hy meer as ’n miljoen bladsye bewyse
bymekaargemaak, baie daarvan aan hom gegee deur mnr. Bheki Jacobs, die
voormalige ANC-intelligensie-operateur.
As die Seriti-kommissie ooit agter die kap van die wapenskandaalbyl kom, sal
dit in groot mate te danke wees aan Jacobs se beginselvastheid. Voor sy dood
in 2008 het hy seker gemaak dat alles wat hy oor baie jare oor die
wapenskandaal versamel het, in die hande van mense soos Young, die
voormalige PAC-lid me. Patricia de Lille en die vredesaktivis mnr. Terry
Crawford-Browne beland.
Suid-Afrikaners het egter oor die afgelope dekade geleer om sinies te wees
oor enige poging om die “waarheid” oor die wapenskandaal uit te vind.
Wie onthou nog die gesamentlike ondersoek van mnr. Shauket Fakie,
ouditeur-generaal, adv. Selby Baqwa, openbare beskermer, en adv. Bulelani
Ngcuka, openbare vervolger, in 2001?
Dié driemanskap se ondersoek het in ’n fiasko ontaard toe dit uiteindelik
aan die lig gekom het dat hulle onder politieke druk vanuit die president se
kantoor geswig het en belangrike bevindinge en gevolgtrekkings weggelaat is
uit die finale verslag wat uiteindelik voor die parlement gedien het.
’n Mens kan net hoop dat die agbare regters van die Seriti-kommissie hul
grondwetlike pligte met meer erns bejeën as die here Fakie en Baqwa wat
destyds hul integriteit vir ’n bord lensiesop verkoop het.
Soos Young tereg uitwys, is daar vandag – tien jaar ná die Fakie-ondersoek –
boonop veel meer inligting oor die omvang van die korrupsie bekend.
Veral die Duitse en Britse ondersoekers het die laaste paar jaar ’n skatkis
van inkriminerende dokumente tydens klopjagte op die onderskeie maatskappye
wat by die wapentransaksies betrokke was, gekonfiskeer. Gaan Seriti die
owerhede van dié lande vra om hul inligting met sy kommissie te deel? ’n
Mens hoop so.
Die deursoek en ontleding van pakkamers vol dokumente en die identifisering
van die netwerk tussengangers en geheime bankrekeninge van ontvangers is
egter net een deel van die kommissie se werk.
In die aanloop tot die afgelope week se aankondiging is bespiegel Zuma wil
die kommissie gebruik om van sy politieke vyande te elimineer.
Die gevaar is dat die kommissie veel meer as net Zuma se vyande elimineer.
As Young se vermoede reg is dat baie van die wapenskandaal se geld in ANC-koffers
gekanaliseer is om hul 1999-verkiesingsveldtog te finansier, is ons in vir
’n hele paar Seriti-skokke.
Daar is egter een voorbehoud. Donderdag se aankondiging laat ook toe dat die
president die verwysingsraamwerk van die kommissie mag aanpas en verander.
Soos ons destyds met die Hefer-kommissie (wat moes vasstel of Ngcuka ’n
spioen was) gesien het, kan sulke aanpassings gebruik word om die kommissie
se werk só te frustreer dat daar uiteindelik niks van kom nie.
Wat nou na ’n wonderlike opdrag lyk om dinge tot op die been oop te vlek,
kan oor ’n paar maande heeltemal betekenisloos wees.
Kom ons hoop egter vir die beste.
Soos Young sê: “Ek is seker nie al die feite sal geopenbaar word nie.
“Maar al word net 10% van my bewerings reg bewys,
sal die R40 miljoen wat die belastingbetaler vir dié kommissie betaal het,
die moeite werd wees.”
En as Seriti uiteindelik net enkele individue identifiseer en al die skuld
op hulle pak?
“Wel, ’n paar swart skape is steeds beter as ’n skerp stok in die oog.”
Pieter Malan is redakteur van Weekliks.
With acknowledgements to Pieter Malan and Rapport.
Aluta.
It's all part of the doctrine of
spherical envelopment.
On the horizontal plane we have Seriti, Crawford-Browne and Young closing
from 120 degrees apart..
Who lurks from above and below?
As well as the other invisible dimensions?
But it's a big pity that we must do and redo the work that four other paid
state agencies, the Office of the Auditor-General, the Office of the Public
Protector, the National Directorate for Public Prosecutions and the Special
Investigation Unit should have done ten years ago.
Other than the SIU, scoundrels.
Skermunkels.
Aluta.