Wapenskandaal: Getuies kry koue voete |
Publication |
Beeld |
Date | 2013-01-17 |
Reporter | Maryna Lamprecht |
Web link | www.beeld.co.za |
Die Seriti-kommissie se ondersoek na die
wapen-skandaal is in die gedrang met belangrike
getuies wat sê hulle weet nie of hulle die
kommissie kan vertrou nie.
Dr. Richard Young, een van die onsuksesvolle
tenderaars in die wapentransaksie en ’n
belangrike getuie wat in Maart voor die
kommissie moet verskyn, het gister aan Beeld
gesê hy is nie bereid om te getuig voor ’n
kommissie waarvan die integriteit onder
verdenking is nie.
“Dit is moeilik genoeg om ’n verklikker te wees,
maar wanneer die regter (Willie Seriti,
voorsitter) nie vertrou kan word nie, kan ek nie
getuig nie. Ek was van die begin af bekommerd en
om nou dít te hoor... Ek vertrou dié mense nie.”
Die kommissie se integriteit is onder verdenking
geplaas deur ondersoeker Norman Moabi, ’n
prokureur en voormalige waarnemende regter van
Pretoria, se bedankingsbrief waarin hy beweer
die kommissie is nie deursigtig nie, bedryf ’n
alternatiewe of “tweede agenda”, manipuleer
inligting en kan nie vertrou word om die
waarheid oor die wapenskandaal te ontbloot nie.
Young het sensitiewe en vertroulike dokumente in
sy besit en vrees hy kan die kommissie nie met
dié inligting vertrou nie. “Dit kan beteken dat
ek myself blootstel... ”
Pres. Jacob Zuma het die Seriti-kommissie in
2011 geproklameer om die wapenskandaal, waarby
van die land se toppolitici betrek word, te
ondersoek.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het
gister gesê die presidensie is nie van plan om
op grond van Moabi se bewerings op te tree nie.
“Dit lyk of dit ’n kwessie tussen ’n werknemer
en die kommissie is. Ons gaan die kommissie nie
mikrobestuur nie. Dit is ’n onafhanklike
kommissie.”
Jeff Radebe, minister van justisie, is volgens
Mthunzi Mhaga, sy woordvoerder, bewus van die
bewerings, maar meen dis ’n saak wat die
kommissie self moet uitklaar.
Terry Crawford-Browne, wapentransaksie-aktivis
wat ook voor die kommissie moet getuig, het gesê
Moabi se bewerings is kommerwekkend en dui op ’n
toesmeerdery. “Dit is noodsaaklik dat die
kommissie sy geloofwaardigheid herstel.”
David Maynier, DA-LP en getuie, het gesê die
kommissie moet verduidelik wat aangaan.
Adv. Paul Hoffman, direkteur van die Instituut
vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika, is ook
gevra om voor die kommissie te getuig.
Hy het gister gesê hoewel Seriti se integriteit
onder verdenking is, beteken dit nie die hele
kommissie moet afgeskryf word nie. “Seriti moet
’n behoorlike verduideliking gee. Hy ondermyn
die kommissie se geloofwaardigheid.”
Lawson Naidoo, woordvoerder van die
Grondwet-waghond Casac, het gesê die kommissie
se werk is ’n saak van enorme openbare belang.
“Ons hoop beslis dat die kommissie sy mandaat
vervul en sy werk op ’n onpartydige en
deursigtige manier doen sodat ons kan uitvind
wat werklik met die wapentransaksie gebeur het.”
Regter Willie Seriti
Foto: Deaan Vivier
With acknowledgement to Maryna Lamprecht
en Beeld.
It's not so much
that my feet have gone cold on me, it's more
that jingle bells have become alarm bells in my
head.
I don't want any kind of repeat of the Baqwa
commisery endured in the last week of August
2001.
Once bitten, always shy.
But what a great photo Beeld pulled out of its
swag bag.
It must also be of circa 2001 vintage.