Publication: Rapport Issued: Date: 2002-12-01 Reporter: Andries Cornellissen Editor:

Jacob Zuma Kry Geld-raad by Omstrede Wapenman

 

Publication  Rapport
Date 2002-12-01
Reporter Andries Cornellissen

 

'n Sentrale figuur in die regering se omstrede wapentransaksie van R43 miljard, bestuur die persoonlike geldsake van adj.-pres. Jacob Zuma.

Hy is mnr. Schabir Shaik, Durbanse sakeman wat betrokke is by verskeie staatskontrakte wat honderde miljoene rand beloop.

Shaik, wie se broers ook by die wapentransaksie betrokke was, is 'n direkteur van Thomson-CSF en African Defense Systems (ADS).

ADS is 'n sentrale rolspeler in die koördinering van die wapentransaksie.

Thomson-CSF is 'n Franse maatskappy wat verlede jaar gekies is om toerusting vir die vloot se korvette te verskaf. Na raming is die kontrak R400 miljoen werd.

Sy broer is mnr. Chippy Shaik, hoofaankoper van die departement van verdediging ten tyde van die wapentransaksie.

Hul ander broer, mnr. Mo Shaik, is Suid-Afrikaanse ambassadeur in Algerië.

Schabir Shaik was in November verlede jaar by 'n ``skadebeheervergadering'' wat senior bestuurders van Thomson-CSF gehou het nadat koerantberigte gepubliseer is oor beweringe van 'n skandaal in verband met die wapentransaksie.

Op die vergadering het Shaik sy kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van regter Willem Heath se ondersoekeenheid by die wapenondersoek. Hy was bekommerd dat 'n sekere ANC-lid ``sy mond sal oopmaak'' en dat hulle almal dan in die moeilikheid sal beland.

Shaik bestuur onder meer 'n Absa-bankrekening wat hy vir Zuma geopen het. Shaik betaal ook die studiegeld van Zuma se kinders.

Toe Rapport hieroor by Zuma navraag doen, het hy gesL omdat Shaik sy finansiële raadgewer is, word die studiegeld via Shaik se maatskappy betaal.

Zuma het ook bevestig dat die motor wat hy as LUR vir ekonomiese sake en toerisme in KwaZulu-Natal gebruik het, deur Shaik oorgeneem is. Rapport het ook vasgestel dat Shaik 'n beslote korporasie besit waarvan hy die enigste lid is. Dié beslote korporasie is gebruik om vir Zuma 'n woonstel as blyplek in Durban te kry.

Volgens Zuma het hy die blyplek om veiligheidsredes nodig gehad toe hy nog LUR was. Die beslote korporasie besit steeds die woonstel op Durban se strandfront.

Shaik sou ook Zuma se egskeidingskikking hanteer toe die adjunk-president verlede jaar van plan was om te skei van sy vrou, Kate, wat dood is voordat die egskeigeding in die hof beland het.

Shaik het uitgebreide sakebelange. (Berig hierby.)

Op 'n vraag of hy bewus is van Shaik se sakebelange, het Zuma gesL Shaik het dit ``in die verbygaan genoem'', maar hy (Zuma) het nie belang gestel in die detail nie. Zuma sL hy is 'n besige man en hy het nie tyd vir die klein besonderhede van Shaik se sakebedrywighede nie.

Die meeste van Shaik se maatskappye is geregistreer en was aktief terwyl Zuma LUR was. Hy het in Desember 1997 adjunk-president van die ANC geword en was tot Julie 1998 ANC-leier in KwaZulu-Natal. In Junie 1999 is hy aangestel as adjunk-president. Die finale besluit oor die wapentransaksie is in September 1999 deur die kabinet geneem.

Volgens Zuma het Shaik die wapentransaksie met hom bespreek nadat dit omstrede geraak het.

Shaik het hom nooit gevra om die proses te be¨nvloed nie. Tydens die aankoopproses was hy 'n LUR, het Zuma gese.

With acknowledgement to Andries Cornellissen and Rapport.