Publication: Rapport Issued: Date: 2003-03-16 Reporter: Pieter Malan

Publiek Het die Reg om Alles te Sien, Maar Loop Baie Bloutjies Staat Traag met Inligting en Dokumente

 

Publication 

Rapport

Date 2003-03-16

Reporter

Pieter Malan

Hoewel individue en instansies die reg op toegang het tot dokumente en inligting wat deur die staat gehou word, is staatsinstellings klaarblyklik toenemend traag om dié inligting bekend te maak.

Die South African History Archive (Saha), 'n Johannesburgse organisasie wat individue help om toegang te kry tot inligting wat deur die staat gehou word, sê meer as twee derdes van die aansoeke wat hulle die afgelope twee jaar gehanteer het, het misluk of departemente kon nie die versoek binne die voorgeskrewe tyd uitvoer nie.

Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, wat in Maart 2001 in werking getree het, bepaal dat enige individu of instansie die reg het om toegang te kry tot staatsinligting wat hom of haar raak.

Dr. "Richard Young", hoof van 'n elektroniese maatskappy in Kaapstad, het pas dié wet met welslae gebruik om dokumente rakende die regering se omstrede wapentransaksie in die hande te kry. (Lees die berig hierby.)

Statistieke wat deur mnr. Verne Harris, direkteur van Saha, bygehou word, dui egter daarop dat die meeste staatsdepartemente nie oor hul voete val om inligting en dokumente openbaar te maak nie.

Harris sê in 2001, die jaar waarin die wet in werking getree het, het Saha 24 versoeke aan 4 staatsagentskappe gerig. Daarvan het 11 (46%) geslaag, 2 (8%) is geweier en 11 was teen die einde van die jaar nog nie verwerk nie.

``In 2002 het staatsinstellings se halsstarrigheid in hul verwerking van versoeke egter 'n beduidende faktor geword,'' sê Harris. Toe is 96 versoeke aan 21 instellings gerig. Net 27 (of 28%) het geslaag, 40 (of 42%) is geweier en 37 was nog nie teen die einde van die jaar verwerk nie.

Harris sê die departement van verdediging is die staatsdepartement wat die beste en die vinnigste reageer op versoeke, terwyl die Nasionale Argief die langste neem om dokumente uit te reik.

Statistieke oor die sukses van die wet moet deur die Menseregtekommissie (MRK) bygehou word, maar die kommissie het vir die afgelope twee jaar nog geen statistieke beskikbaar gestel nie.

Mnr. Leon Wessels van die MRK sê hulle hoop om teen middel vanjaar hul eerste verslag oor die werking van die wet aan die parlement voor te lê.

Hy erken dat hulle self probleme het om betroubare inligting van staatsdepartemente te kry.

In sommige gevalle sê departemente hulle het geen versoeke gekry nie, terwyl koerantberigte anders lui.

Harris sê hul ervaring dui daarop dat baie staatsinstellings bloot versoeke om inligting probeer ignoreer in die hoop dat die aansoekers sal moed opgee en nie die bronne het om hof toe te gaan om hulle te dwing om die dokumente te oorhandig nie.

Die kere dat Saha wel hof toe is om instellings te dwing om dokumente te oorhandig, is die sake buite die hof geskik.

In die saak tussen Young en die ouditeur-generaal die eerste keer dat aspekte van die wet in 'n hof getoets is het regter Willie Hartzenberg dit duidelik gemaak dat instellings nie kan sê dat hulle nie genoeg personeellede het om versoeke om dokumente uit te voer nie.

"As dit beteken dat (die ouditeur-generaal) bykomende personeellede moet aanstel (om aan die versoek te voldoen), dan moet dit gedoen word,'' het die regter in sy uitspraak gesê.

With acknowledgements to Pieter Malan and Rapport.